Karlien het gisteraand aan die voormalige Springbok-rugbyspeler en Blou Bul Derick Hougaard verloof geraak. Hy het vir haar ’n geel diamant van twee karaat gegee en sy gaan self ’n verloofring daarvan laat ontwerp.

Toe SARIE vandag telefonies met haar praat om die paartjie geluk te wens, was die twee juis op pad na Jenna Clifford-juweliers om die yslike diamant in ’n ring te laat omskep. ?“Die diamant is ontsettend mooi,” sê Karlien. “Ek wou graag ’n geel diamant hê en jy kan die geel duidelik sien. Ek het nie gedink Derick gaan vir my so ’n groot diamant kry nie.”

Heidi Klum se geel-diamantring

Inlasfoto: Heidi Klum se ring (foto: Gallo Images/Getty Images)

Karlien sê die troue gaan 23 óf 24 November vanjaar in die Kaap plaasvind. “Ons weet nog nie presies waar nie, maar dit gaan nogal ’n groot troue wees, want ons albei het baie vriende.” ?Derick het haar gisteraand met ’n romanties gedekte tafel op ’n gholfbaan verras en die ja-woord gevra. Dit was op die Pretoriase gholflandgoed waar sy woon

Vandag is hulle twee “in die wolke,” sê Karlien aan SARIE. “Ons kan dit nou nog nie glo nie. Ek is ongelooflik gelukkig, regtig."

Hulle is besig om ’n huis in die ooste van Pretoria te koop. Derick sal eers daar intrek en Karlien later. “Ek sien verskriklik uit, jy verstaan nie. Ek wil nou net huis-huis speel.”

Toe SARIE vroeër ’n onderhoud met haar gedoen het vir ons Februarie-uitgawe, waar sy ook op die voorblad was, het sy vertel hoe broeis sy is. Dit het nog nie verander nie. “Ek sien baie uit na babas!” gee sy laggend toe.