“Ek is teleurgesteld, want ons moet vier of vyf konserte kanselleer,” het sy vandag aan SARIE gesê. “Daar het twee nodules op my stembande begin vorm. Dis nogal sleg, want hulle sal dit moet uitsny as dit verhard en dan sal ek ’n stemband-operasie moet ondergaan. Maar ons hoop dis nie nodig nie. Ek sien nou ’n klomp spesialiste, hulle probeer nou om my stem weer gesond te kry. Ek moet ook rus ter wille van my gesondheid, want hulle’s bang vir uitbranding.”

Sy sien ook daagliks ’n spraakspesialis om haar te leer om haar stem nie so te ooreis nie.
Die laaste tyd toer sy die land vol en tree oral op – van die Kaap en Bloemfontein tot Pretoria. “Ek het net agtergekom ek het nie meer krag nie, my stem wil nie meer uitkom nie.”

Nou gaan sy vir drie weke lank net by haar huis in Pretoria rus en gelukkig is Derick Hougaard, haar verloofde, tans in Suid-Afrika en kan haar ondersteun. “Ek wil net by die huis bly, ek wil nêrens heen gaan nie.”

Sy hoop om ná die drie weke se “stemrus” reg te wees om die opname van haar nuwe album te voltooi, wat na verwagting teen Oktober of November op die rakke sal wees.