Kate se oom Gary Goldsmith het gesê hy het 'n baie snaakse geskenk wat hy vir die koninklike baba wil gee - en dit is geen duur baba-speelding nie.

Wat op aarde gee jy vir húlle baba? Die baba gaan alles hê!

In 'n onderhoud met die Britse koerant The Sun het Gary gesê hy gaan die geskenk gee wat hy aan al sy vriende se babas gee. "As 'n lojale Chelsea-ondersteuner, gee ek altyd aandele in [die Chelsea-sokkerspan]. Sodra hulle bietjie ouer is, gee ek vir hulle die Chelsea-klere."

"Dit is briljant en dit maak die ouers mal", het die 48-jarige oom bygesê. "Prins William is 'n Aston Villa-ondersteuner. Ek dink hy gaan dink dis baie snaaks"

Kate, Pippa en hul broer James noem blykbaar hul oom "Uncle G" of "King of Fun". Hy is Kate se ma, Carole, se jonger broer. Hy onthou nog toe sy vir Kate die eerste keer huis toe gebring het na haar geboorte. "Sy was 'n klein baba, baie delikaat." 

Kate het verlede week dekor-winkels besoek om die babakamer in Kensington-paleis in Londen te versier. Maar hier het sy niks van die geslag van die koninklike baba weggegee nie. Sy het luukse beige en bruin handgemaakte materiaal gekoop.