Die paartjie het Saterdagaand ’n banket van die British Academy of Film and Television Arts (BAFTA) bygewoon waar groot name in Hollywood soos Tom Hanks, Nicole Kidman en Barbara Streisand teenwoordig was. Maar dié sterre se glans was nie naastenby so helder soos die koninklike paartjie s’n nie. Hulle het al die aandag gesteel en hordes koninklike aanhangers het hulle in die strate ingewag, berig thedailybeast.com.

Kate het asems weggeslaan in ’n rok deur Alexander McQueen en Jimmy Choo-skoene. Daarmee saam het sy kandelaar-oorbelle aangehad wat koningin Elizabeth vir haar geleen het.  

Die BAFTA-banket met die tema 42 Britte om dop te hou is in die Belasco, 'n art deco-teater in Los Angeles, gehou. Prins William is die president van BAFTA en hy het al die gaste laat lag toe hy sy toespraak begin het deur te sê hy wil Colin Firth bedank vir die perfekte woorde vir die begin van 'n toespraak – “I have a voice” – uit The King’s Speech. Dié Oscar-bekroonde film gaan oor sy oupagrootjie, koning George VI, wat ’n spraakprobleem gehad het.

Hy het verder Britse akteurs bedank vir hul invloed in die film- en TV-bedryf en hulle gelukgewens om in ’n uiters mededingende bedryf so suksesvol te wees.

Vroeër die dag het hy aan ’n polo-wedstryd deelgeneem om geld in te samel vir The Foundation of Prince William and Prince Harry, een van die prinse se gesamentlike liefdadigheidsprojekte. Sy span het die wedstryd gewen, en Kate het die trofee aan hom oorhandig. Hy het teen akteurs soos Billy Zane, Jennifer Love Hewitt, Rob Lowe en Joe Jonas van die Jonas Brothers-faam deelgeneem en meer as $1miljoen is ingesamel.

Sondag het die hertog en hertogin ’n brunch bygewoon wat deur die Tusk Trust, ’n liefdadigheidsorganisasie wat veral fokus op natuurbewaring in Afrika, gehou is. Reese Witherspoon en Jennifer Garner het ook die geleentheid bygewoon.

Klik hier vir meer foto’s van die BAFTA Banket