Die Beckhams het die wêreld aan die praat oor die besluit om hul dogtertjie Harper Seven te noem. Die Harper-deel kan mens dalk nog verstaan, dit is ’n gewilde Engelse naam, maar Seven? Dit is nie ’n noemnaam wat mens elke dag hoor nie.

People.com berig dat ’n korrespondent van die Beckhams verduidelik het dat 7 ’n baie gelukkige en gelowige getal is. Klein Harper Seven het 7 pond (+/- 3.2 kg) by geboorte geweeg en sy is op die 7de dag van die 7de maand, net na 07:00 die oggend, gebore.

Soos Beckham-aanhangers ook reeds reg geraai het, is die nommer op sy sokkertrui waarin hy vir Engeland en Manchester United uitgedraf het ook 7.

Maar Harper Seven is nie die enigste Hollywood-baba wat die naweek gebore is nie. Kate Hudson en Matthew Bellamy, die hoofsanger van Muse, se seuntjie is vroeg Sondagoggend gebore, berig usmagazine.com.  

Hulle wou glad nie voor die tyd weet wat die geslag van die baba is nie. En al het Kate gesê het sy dink dit is ’n dogtertjie, is dit op die ou einde toe ’n seun.

Kate het in Januarie aangekondig dat sy swanger is en die paartjie het in April verloof geraak. Hulle gaan al net meer as ’n jaar lank uit.

Hulle het vir hulle vriende gevra om nie vir hulle geskenke te gee nie, maar om eerder bome te laat plant via Barcham Trees, ’n Britse organisasie wat ook deur koningin Elizabeth ondersteun word.

Kate het ’n 7-jarige seun, Ryder Russell, saam met haar eksman, Chris Robinson, die hoofsanger van The Black Crowes.