Het die hertogin van Cambridge spesiale planne vir haar 32ste verjaardag vandag?

Volgens E! Online lyk dit of Kate se verjaardag ’n kosbare viering saam met haar ma, Carole Middleton, gaan wees. Carole is vroeër dié week in van haar dogter se gunsteling-winkels in Londen gesien, waarskynlik op soek na die perfekte verjaardaggeskenk. Sy het onder meer produkte van Lancôme - een van Kate se gunsteling-skoonheidshuise - gekoop.

Kate se Kersgeskenk aan klein prins George

Dit lyk nie of prins William sy vrou se spesiale dag met haar sal kan deel nie. Die prins het Dinsdag sy studies in ’n kursus in landboubestuur aan die Universiteit van Cambridge begin, skryf Hello!.

FOTO: Gallo Images / Getty Images FOTO: Gallo Images / Getty Images

'n Bron het aan E! Online vertel dat die nederige prins Dinsdag per trein na die Universiteit van Cambridge gery het - hy het glo nie eens in die eersteklas-sitplekke gesit nie en rustig ’n boek gelees. Aan die einde van die dag is William weer op ’n trein terug na Londen gesien.

Prins William neem ’n selfie

Miskien is hy vanaand betyds vir 'n spesiale verjaardagete saam met Kate en klein prins George.

William se kursus in landboubestuur is spesiaal vir hom saamgestel sodat hy meer oor Brittanje se landelike gebiede en landboubedryf kan leer. Dit sal hom voorberei en bekwaam vir sy verantwoordelikhede wanneer hy eendag die hertogskap van Cornwallis by sy pa, prins Charles, erf. Hello! berig verder dat die kursus William vir die volgende tien weke van 18 tot 20 ure per week gaan besig hou. William, wat reeds 'n graad in geografie aan die Universiteit van St Andrews verwerf het, was glo baie opgewonde om weer te begin studeer.

Bronne: E! Online en Hello!