Valentynsdag as enkellopende is vir niemand lekker nie, maar as jou huwelik met een van die bekendste Hollywood-akteurs net 7 maande gelede skipbreuk gely het, is die wêreld se oë ook nog op jou.

Maar dit lyk of Katie Holmes haar nie steur aan die druk van dié dag nie. Sy het aan Eonline.com gesê dit gaan eerder ’n familie-dag wees. Drie generasies Holmes-vroue gaan ’n Valentynsnaweek van die geleentheid maak. Katie, haar 6-jarige dogter, Suri Cruise, en haar ma, Kathleen, gaan die naweek saam deurbring.

Vir Valentynsoggend sal Katie vir haar dogter rooi pannekoeke maak – iets wat Ma Kathleen altyd vir haar as kind gedoen het. Daarna sal hulle kookklasse neem en ’n spa besoek.    

Suri is die dogter van Katie en Tom Cruise, met wie sy vir 5 jaar getroud was. Katie het ná die egskeiding toesig oor haar gekry.

Suri en Katie is albei lief vir sjokolade en die 34-jarige aktrise sal haar dogtertjie bederf met soetighede en dalk ’n paar teddiebere.

’n Vriend van Katie het aan die media gesê Katie en Suri het geen planne om New York te verlaat nie. “Sy weet waar die lekker plekke is om te eet en waar om saam met haar vriende te kuier. Sy is die lewende weergawe van Carrie Bradshaw (Sarah Jessica Parker se karakter in Sex and the City) wat haar verhouding met dié stad betref.”