Onvrugbaarheid is algemeen en ’n neerdrukkende kwessie vir elke paartjie wat dit ervaar. Hoewel die TV-ster Kim Kardashian en haar man, sanger Kanye West, daarmee sukkel, hoop hulle om natuurlik swanger te word met ’n boetie en ’n sussie vir hul enigste kind, North West. 

Kim Kardashian het onlangs in ’n onderhoud met Elle UK vertel hoe sy gesukkel het om swanger te word met North West. Sy en haar man, Kanye West, gaan ondanks hul vrugbaarheidstryd eers probeer om natuurlik swanger te word. Daarna sal hulle in vitro-behandeling probeer, sê sy.

Kim se swangerskapstryd

"’n Paar jaar gelede is daar vir my gesê dat ek nooit swanger kan word nie. Drie verskillende dokters het vir my dieselfde ding gesê. Dis hoekom ek my eierselle wou vries. Ek was op pad om dit te doen toe ek uitvind ek is swanger met North,"  vertel Kim aan Elle UK.

Tydens Kim se swangerskap het sy ook probleme ervaar. Hoë bloeddruk tydens die swangerskap het blykbaar bygedra tot North se vroeë geboorte.

"Ek wil ’n seun en nog ’n dogter kry. Ek wil hê dit moet onmiddellik gebeur," het Kim aan Elle UK verduidelik.

"Ek was mal daaroor om deel te wees van ’n groot gesin en ek wil dit vir North West gee.

"Ons sal in vitro-behandeling probeer as niks gebeur nie, maar ons albei wil aanhou natuurlik probeer," sê sy.

Dis ’n algemene kwessie

Kim en Kanye is een van talle paartjies wat sukkel om babas te kry. Omtrent 1 uit elke 6 paartjies ervaar vrugbaarheidskwessies, volgens die Infertiliteit-bewusmakingsassosiasie van Suid-Afrika (IFAASA). Daar was in 2010 ongeveer 48,5 miljoen paartjies wat gesukkel het met vrugbaarheidsprobleme, volgens ’n Europese studie, Nasionale -, streeks-, en wêreldwye tendense in infertiliteit sedert 1990.

Wanneer moet jy bekommerd word?

IFAASA sê sowat 3 uit elke 5 paartjies word gewoonlik swanger ná ses maande se probeer .

Dié nie-winsgewende organisasie raai paartjies jonger as 35 jaar oud aan om ’n dokter te gaan spreek as hulle ná ’n jaar se probeer nie swanger word nie. Paartjies van 35 jaar en ouer moet ná ses maande dokter toe gaan.

"As jy oor 30 is en jy het ’n mediese geskiedenis van pelviese inflammatoriese siekte, pynlike menstruasie of onreëlmatige menstruasiesiklusse, of as jy weet jou man het ’n lae spermtelling, moet jy nie ’n jaar wag nie," waarsku IFAASA. "Praat met jou dokter."

Algemene mites

Hier is ’n paar wolhaarstories wat IFAASA op hul webtuiste opklaar.

Onvrugbaarheid is ’n vroueprobleem

In die meeste gevalle word onvrugbaarheid veroorsaak deur albei persone, of die oorsaak is onverklaarbaar, verduidelik die organisasie. Verder is daar ’n gelyke kans dat dit veroorsaak word deur ’n vroulike faktor of ’n manlike faktor.

Dis bloot jou spanning se skuld

"Om net te onspan of om ’n vakansie te vat genees nie sommer onvrugbaarheid nie," verduidelik IFAASA.

Daar is baie onverklaarbare gevalle van onvrugbaarheid. Dit beteken net dat die oorsaak nog nie vasgestel is nie, sê IFAASA.

"Daar is wel baie bewyse dat onvrugbaarheid spanning veroorsaak!" sê IFAASA. Ons is seker Kim sal saamstem.

Bronne: Elle UK en IFAASA