Die storie?

‘n Jong onderwyseres van Oudtshoorn, Cybil Ferreira, sal enigiets in haar vermoë doen om te verseker dat haar projek voortgaan by die plaasskooltjie, Kalfieskraal. Sy droom daaroor om ’n sentrum te vestig waar die omgewing se kinders, wat ly onder die invloed van alkoholisme in die Swartberg Vallei, veral oor naweke ’n veilige hawe kan vind.

Cybil se droom is egter in gevaar nog voor dit regtig van die grond af kan kom: die grond waarop Kalfieskraal staan is te koop en geen van die moontlike kopers stel belang in die projek nie. Nie eens Cybil se skatryk verloofde, die volstruisboer Meyer Labuschagne, gee veel om oor die toekoms van die projek of die kinders nie.

Cybil se laaste hoop is om die direkteur van die Global Upliftment Fund, wat tans in die Klein Karoo soek na projekte om te ondersteun, te oortuig om haar projek te befonds.

So kom Frans Coetzee in die prentjie in.  Frans is ’n filmmaker met ’n gebreekte hart,  wat in die Klein Karoo is om saam met sy span ’n dokumentêr te maak oor opheffingswerk in die omgewing - en hopelik in die proses te vergeet van liefde, vrouens, en al die moeilikheid wat daarmee saam kom.

Maar dan kruis Cybil en Frans se paadjies, en beide se wêrelde word totaal omver gegooi.

As Cybil haar hart volg, beteken dit sy moet haar drome opgee, of sal ware liefde juis haar drome vlerke gee? En is Frans bereid om liefde nog ’n kans te gee?

Klik by www.kleinkaroofilm.co.za vir meer