SARIE se kosredakteur, Herman Lensing, onthou dié besonderse kosmens.
 
"Lannice was bekend vir haar entoesiasme en passie vir alles wat kos is, en dit wat deel vorm van die bedryf. Haar liefde vir kos is iets wat ons nog lank sal bybly en in die komende jare gemis sal word.
 
"Elke keer as jy met Lannice gepraat het, kon jy net luister na die kennis wat oor haar lippe gevloei het. Daar was nie ’n kosvraag wat sy nie kon beantwoord nie. Sy het presies geweet wat reg en verkeerd is, as dit kom by kos en restaurante; sy was immers op die paneel wat die toprestaurante in die wêreld aangewys het. Geen fout het verby haar geglip sonder dat sy dit opgemerk het nie.

"Lannice was bekend vir haar warm glimlag, skerp tong en vinnige reaksies. Sy het geglo in opbouende kritiek en die opheffing van die kosbedryf. Sy het ook meer as 13 kookboeke geskryf, waarvan die eerste een reeds in 1979 verskyn het.
 
"Ons gaan haar koskennis, entoesiasme, liefde en groot glimlag baie mis."

Lannice het 5 weke gelede vir die eerste keer ouma geword. Sy laat haar man, Michael, en dogters, Courtenay en Tamsin, en kleindogter, Tiffany, agter.

Gaan lees ook die huldeblyke op Lannice se Facebook-blad.