Is jy mal oor kykNET se regsdrama Fynskrif? Jy kan nou agter die skerms kuier met drie van die sterre! 

Mik 26 November om 19:30 na SARIE en Storiemaker se Instagram-blaaie, gaan na die Instagram Stories en gesels saam! Jy kan kommentaar lewer met jou Fynskrif-vrae, en die akteurs sal vir jou kan terug antwoord. 

Fynskrif
Fynskrif

Fynskrif

Die tweede seisoen tel drie maande ná die eerste seisoen se gebeure op. Die praktyk hang aan ’n draadjie ná Hans van Wyk (Chris van Niekerk) besluit het om af te tree. Katrien (Cintaine Schutte) en Ben (Neels van Jaarsveld) se verhouding word getoets as sy ’n moeilike saak aanpak. Corné (Beer Adriaanse) is onseker oor sy toekoms. En Lara (Tinarie van Wyk-Loots) probeer nuwe kliente kry, al is daar ’n wig tussen haar en Jaco (Jacques Bessenger).

View this post on Instagram

When you get to work with your tjommies! @bennieboekfilm @cintaineschutte ??- our fantastic director, @ninaswartskaap! ????

A post shared by De Klerk Oelofse (@de_apie) on

Boonop is daar ’n klomp bekende gesigte wat ’n draai maak! Armand Aucamp is weer te sien as die popster Ivan Nel, Henré Pretorius verskyn as die slinkse Dewald en De Klerk Oelofse vertolk die rol van Simon, Katrien se slimkop klient. Lea Vivier (Lilani) sluit aan as die nuwe klerk, en Christia Visser (Adel) is ’n enterpreneur wat romanties betrokke raak by Edwin van der Walt (Wian).

Lea Vivier en De Klerk Oelofse
Lea Vivier en De Klerk Oelofse

Lea Vivier

Sy is so droog soos die Namibwoestyn. Só beskryf die aktrise Lea Vivier haar karakter Lilani wat in die tweede seisoen van die kykNET-reeks Fynskrif verskyn. Lilani is ’n klerk wat ná ’n jaar se sabbatsverlof terugkeer na Van Wyk & Vennote. Sy en Corné (Beer Adriaanse) het glo ’n donker geskiedenis. “Sy is intelligent, kompleks, kompeterend en het geen sosiale filter nie. Sy sê ook ’n ding soos dit is.”

Geen doekies omdraai nie, iets wat Lea verfrissend gevind het. “Dit was lekker om net goed te kon sê,” skerts die pragtige krulkop. “Ek is eintlik weer glad nie so nie. Ek is oorsensitief vir ander mense en hul gevoelens. Ek wil seker maak almal is gelukkig en gemaklik.”

Lilani dien as ’n tipe comic-relief, vertel Lea. “Hoewel sy glad nie ’n grapjas is nie.” Aanvanklik was dit intimiderend om by die tweede seisoen van Fynskrif aan te sluit. “Maar op ’n goeie manier, daar was groot name op stel. En om teenoor Tinarie van Wyk-Loots te kon speel was ’n groot droom. Sy is een van my gunsteling-aktrises uit die Suid-Afrikaanse bedryf.” 

Lees die volle onderhoud hier

Cintaine Schutte

Cintaine vertolk die rol van Katrien, die logiese prokureur in Fynskrif. Cintaine het in SARIE se November-uitgawe vertel dat sy ’n Croxley-boekie, met sinne in pienk, pers en groen ink, gebruik om Katrien se gevoelslandskap te karteer. Want Katrien is ’n volronde karakter. Van seisoen 1 tot seisoen 3 (wat pas geskiet is) stap sy ’n pad met emosionele oppe en affe. TV-reekse en rolprente word nie chronologies geskiet nie. Daar kan dus weggespring word met episode 13, toneel 3. En môre kom episode 6, toneel 2 dalk aan die beurt.

Met haar boekie kan Cintaine met een blik presies sien waar haar karakter emosioneel in ’n spesifieke toneel is en hoe sy dit vantevore benader het. Sy word baie oor daai boekie gespot en eenkeer het die tegniese span dit selfs weggesteek. “En ek freak uit. ‘Waar is my boekie, dit lyk so . . .’ En almal sê: ‘Ja, Cintaine, ons ken almal jou boekie.’ Dis ’n bietjie soos my karakter-Bybel, ek raak paranoïes as dit weg is.”

Maar altyd benader sy ’n rol met “eerlikheid, eerlikheid, eerlikheid. Jy speel ’n regte mens, daar kan iemand in die gehoor sit wat met die karakter identifiseer. Dis nie speel-speel nie.” 

Lees die volle onderhoud hier

Kuier vanaand saam met De Klerk Oelofse, Cintaine Schutte en Lea Vivier en leer ken die Fynskrif-sterre!