Dunay vertel sy en Kurt het ’n ruk gelede voor die TV gesit en gewonder hoe hulle vir Darren en Sarah-Kate kan help met Mark se mediese onkostes.

Op daardie stadium het Darren ses maande laas gewerk. Hy het sy pos by SuperSport en Jacaranda 94.2 verloor ná ’n voorval waarin hy die k-woord gebruik het. ?Kurt en Dunay het besluit om ’n konsert, Musiek vir Mark Scott, met meer as 20 Afrikaanse sangers te hou. Toe Kurt en Dunay begin rondvra watter sangers bereid is om op te tree, het so baie laat weet hulle wil deel van die konsert wees, vertel Dunay.

Kurt en Dunay is goeie vriende met Darren en Sarah-Kate. “Ons kuier gereeld saam. Dit is ’n verskriklike ding wat met hulle gebeur het. Ons wou hulle graag help. Darren en Sarah-Kate is so dankbaar vir die hulp. Hulle weet nog nie hoe lank Mark se behandeling gaan duur nie. Mark kry nou al vir ’n maand chemoterapie. Hulle behoort vandag of môre uit te vind of Mark al geopereer kan word.”

Die konsert vind op Dozi se plaas op Hartbeespoort plaas. “Ek en Kurt het een naweek by Dozi gekuier en gevra of ons die konsert daar kan hou. Hy het ’n buitelug-area wat ingerig is vir konserte (Dozi’s Back to the Roots). Dozi het onmiddellik ingestem en dié plek gratis aangebied.

”?Al die sangers tree ook gratis op, sê sy. “Dit gaan ’n heerlike familie-dag wees. Die konsert begin 09:30 en hou tot ná 18:00 aan. Daar sal kos en drank te koop wees. Mense hoef net hul eie kombers of stoel saam te bring.    

Dunay en Kurt het ook onlangs hul eie liefdadigheidsorganisasie, die Kudu-stigting, op die been gebring. “Ons het die naam saamgestel uit die eerste twee letters van my en Kurt se naam. Ons wil geld insamel en mense help waar ons kan.”
 
* Kaartjies vir die Musiek vir Mark Scott-konsert is by Computicket te koop (R120 vir volwassenes en R80 vir kinders onder 10).  ?Besoek www.markscott.co.za vir meer inligting, asook aanwysings na Dozi’s Back to the Roots.