7 Augustus 2009 begin een van Suid-Afrika se gewildste sangers, Kurt Darren, aan sy eerste tonele verfilm vir die trots Suid-Afrikaanse rolprent The Race-ist wat landwyd op 9 Desember 2009 uitgereik sal word.

Sterre soos Nicole Smart van 5FM, Tsotsi-ster Craig Palm, Brandon Auret, die veteraan-akteur Ian Roberts, Jonathan Pienaar wat in die internasionale lokettreffer Blood Diamond gespeel het en M-Net se Big Brother-huis se "Bad" Brad Wood sal onder andere ook hierin speel.

Marguerite van Wyk het met Kurt gesels oor sý rol in dié rolprent. Dit is geskryf, vervaardig en die regie is behartig deur Andrew Wilmot.
 
Sien jy uit om te begin verfilm?
Ja, ek weet nie wat gaan gebeur nie, maar ons begin Sondag by 'n resiesbaan verfilm in Brakpan. Ek sien uit na die interaksie met die ander spelers. Ek is nie senuweeagtig nie. Maandag skiet ons by Lanseria.
 
Daar gaan vinnige motors, mooi meisies en eksotiese plekke in die fliek wees om die publiek te lok . . .
Ek is nie 'n groot kar-ou nie.Soms kyk ek Formule 1, maar sporte soos rugby en krieket is eintlik my ding. En ek hou maar van die natuur. Hierdie is 'n werk. Hulle sit die mooi meisies in om die mense te lok. Ek het reeds my eie mooiste meisie aan my sy. En die leer jets . . . dit sal die lewe makliker maak. Oorsee is dit in die mode. Wie weet? Ek het nóg nie een van my eie nie.
 
Watter tipe karakter vertolk jy?

'n Richard Branson-tipe ou. Zander van der Kloof. Hy hóú daarvan om 'n mooi kar te kry.
 
Moet jy nie vreeslik baie nuwe woorde leer nie?
Ja, maar met die woorde wat ek vir my liedjies moet leer en vir my TV-show, gaan dit als oor dissipline en repetisie. Ek besef as ek nie die woorde ken nie, gaan ek sukkel. Ek doen die werk in die bedryf al lank genoeg om te besef ek gaan dit kán leer.
 
Jy’s vol energie, nè?
Ek het baie dryfkrag, dis die geheim. Ek het 'n passie vir wat ek doen. My hele gesin het passie vir die lewe. Ek sien net kans vir meer en meer.