Die akteur en regisseur Andre Frauenstein en regisseur en vervaardiger Anton Ernst het met die idee vorendag gekom om ’n fliek te maak waarin Kurt se liedjies die storielyn vorm.

Hulle het met Kurt in hul agterkop met die idee begin speel om so 'n fliek te maak en Anton het die hele storie neergepen. Dele in die storie weerspieël Kurt se regte lewe, soos hoe hy en sy vrou, Dunay, ontmoet het. Dit was op die stel van die musiekvideo van "Meisie Meisie" en Dunay het nie geweet wie hy is nie!

In die fliek is die sanger Dirk de Jong op soek na die perfekte meisie om in sy video te speel . . . Hy vind haar gelukkig en dit help hom om uit 'n stormagtige verhouding te "ontsnap".

Volgens Kurt was dit 'n opwindende projek om aan te werk, veral omdat dit op soveel verskillende plekke geskiet is – Witwater op Naboomspruit, Krugersdorp, by die O.R. Tambo-lughawe en selfs in België!

Daar is selfs 'n Belgiese aktrise, Ilze de Vis, in Ek lief jou te sien. Plaaslike bekendes wat daarin speel, is die model en aktrise Christina Storm, die gewilde sanger Kevin Leo en Andre Frauenstein.

"Dit was 'n lekker uitdaging en ek sien baie uit na die eindresultaat – veral na die publiek se reaksie wanneer hulle 'n totaal ander kant van my sien," het Kurt aan sarie.com vertel.

Vorige flieks waarin Kurt te sien was, is onder meer The Racist, Liefling en Susanna van Biljon.

Onbeskryflik begin op 3 Junie 2011 in teaters draai.