Ons Boere, Ons Inspirasie
Fanie Cronjé en Eloise Pretorius, die aanbieders van Ons Boere, Ons Inspirasie

In dié kykNET-reeks word plase reg oor Suid-Afrika besoek en ontmoet ons die mense wat help om ons kosmandjies vol te hou. Hulle vertel hul unieke stories ... van swaarkry, maar ook van die mooi en die hoop en inspirasie. Hulle is boere, ja, maar ook musikante, wêreldreisigers, kunstenaars, entrepreneurs en filantrope.  

Hulle tel onder die 36 000 boere en plaaswerkers wat 56 miljoen Suid-Afrikaners voed.

“Dié mense is interessant en merkwaardig, met ’n groter begrip van genade as die meeste van ons,” sê mede-aanbieder Eloise Pretorius.

HF Cilliers in episode 1 FOTO kykNET
HF Cilliers in episode 1 FOTO kykNET

Hier’s 5 redes om anders na boere te kyk:

1. Genade in die swaarkry

Met die maak van Ons Boere, Ons Inspirasie is ons weer eens herinner aan hoe swaar boere in die droogte kry. Soos wat SARIE-redakteur Michélle van Breda skryf: “Soms word daardie grond ’n stukkie hel, wanneer die aarde smeek om reën en diere swaarkry – diere wat dikwels name het en nie net nommers nie. Wanneer die belofte om te voorsien in die stof verdwyn, en slegs genade oorbly.”

Ondanks hierdie swaarkry is boere dikwels ’n onuitputlike bron van omgee, oplossings soek en vasbyt. Hulle innoveer en volhard. “Landbou het my geleer mense wat waarlik suksesvol is, moes in ’n stadium ’n bestaanskrisis trotseer – op ’n manier dit laat gaan wat hulle goed ken en oor begin,” sê Eloise.

Episode 3 van Ons Boere, Ons Inspirasie FOTO kykNE
Episode 3 van Ons Boere, Ons Inspirasie FOTO kykNET

2. Die regte storie van landbou

GWK het vanjaar weer die Ons Boere, Ons Inspirasie-projek aangepak om die régte en mooi storie van landbou en sy mense in SA te vertel. Dié slag boonop met die TV-program en ’n splinternuwe animasie-advertensie wat wys hoe boere innoverende maniere vind om ons land te voed.

3. Boerdery is ’n gesofistikeerde onderneming

Jacques Taylor, besturende direkteur van John Deere, en Stephan Nel, bemarkingsbestuurder, het by die projek betrokke geraak om terug te gee aan hul kliënte.

“Vir ons is dit ’n geleentheid om te wys dat boerdery ’n gesofistikeerde onderneming is wat voorste tegnologie inspan om doeltreffender te boer en mededingend in die wêreldmark te wees. Ons boere het ’n sterk ondernemingsgees, hulle volhard en gee om, ook vir plaaslike gemeenskappe. Ons glo dat dié program dit vir die land sal wys.”

HF Cilliers in episode 1 FOTO kykNET
HF Cilliers in episode 1 FOTO kykNET

4. Die bron van ons kos

“As jy soggens opstaan en jou eerste koppie koffie met een suiker en afgeroomde melk maak, is ’n boer betrokke. Maak dan jou spekvleis en saggekookte eiers, en ’n boer is teenwoordig,” sê Agri SA. “Wat van wanneer jy tob oor Sondag se ete wanneer jou skoonouers kom kuier – ook dan is ’n boer, ’n plaaswerker, ’n hegte plaasgemeenskap daar.”

Volgens Daniel Padiachy, hoof van bemarking en kommunikasie by McDonald’s SA, is dit belangrik om die kollig te plaas op die boere en die gemeenskappe agter McDonald’s. “Dat regte mense en die natuurlike omgewing die bron van ons kos is. Boere is die begin van die voedingsreis van grond tot tafel. Hul waardes strook met ons s’n en ons is geëerd dat mense met húl integriteit deel van ons verskaffingsketting is.” 

Ons Boere, Ons Inspirasie
Etienne van Wyk in episode 3 FOTO kykNET

5. Volronde mense

Fanie Cronjé, mede-aanbieder van Ons Boere, Ons Inspirasie, stileer die boere aan die einde van elke episode. “Boere is nie koekerig of onversorg nie. Hulle het ook mooi klere. Hulle het passies, liefdes en leef ook in die 21ste eeu,” vertel hy. 

Volgens Loren Greyling, kykNET se toesigvervaardiger, is die projek ’n byeenbring van harte wat vir SA se boere klop. “Dis die mense wat kos op ons tafel sit en ons ook inspireer. Dis volronde mense wat nie nét in plaasklere kan woeker nie, maar ook ’n balrok of aandpak kan aantrek na die opera, ’n duikpak om branders te ry of ’n paar tekkies om ’n avontuur aan te pak.”

Aan die einde van elke episode word ’n portret van wêreldgehalte geneem wat in SARIE gaan verskyn. Dié portret wys die boer op ’n nuwe manier. Sodat mense kan sien hóé inspirerend boere regtig is. Dat hulle anders sal kyk na die mense agter SA landbou.

*Ons Boere, Ons Inspirasie is trots geborg deur GWK, John Deere en McDonald’s. En met die hulp van Agri SA.