10 jaar gelede, in 1999, het ons vir die eerste keer 10 ure se Afrikaanse kykgenot per dag op DStv geniet.

Nou, 10 jaar later, het kykertalle aansienlik gegroei en spog kykNET met 'n 24-uur per dag uitsaaityd - van oorspronklike realiteitsreekse tot speletjiesprogramme, komedies, dokkies, dramas en 'n sepie wat binnekort die 1 000ste episode gaan beleef.

Daar's dus geen twyfel dat kykNET onder die gewildste kanale op die DStv-boeket is nie.

Theo Erasmus, MultiChoice se kanaal­direkteur van algemene vermaak vir Suid-Afrika, leen woorde by Calvin Klein wanneer hy kykNET in 'n neutedop saamvat: Just Be! Hy is ook die voormalige hoofuitvoerende beampte van kykNET.
"Wees net Afrikaans, wees gemaklik daarmee, wees akkommoderend en inklusief daarmee, wees buigsaam daarmee, wees verdraagsaam daarmee, maar bowenal, wees dit net en basta!"

Só hou hulle makietie


Op Sondag 15 November wys ons 'n spesiale dokumentêre program oor die 10 jaar lange pad wat ons gestap vanaf 1999 tot die kykNET wat julle vandag ken. Rocco de Villiers, die man wat die eerste temamusiek vir die kanaal gekomponeer het, gaan ook op ons verjaarsdag vir ons musiekplesier op die klavier verskaf. Robert Mitchley speel saam op kitaar in 'n musikale reis van Bothaville tot Buenos Aires - van bossa nova tot blues.

Op Sondag 22 November loer Fiësta in by die kykNET-partytjie om die vrolikheid van die opskop wat kykNET hou om hierdie mylpaal te vier met julle te deel.

En op 28 November is kykNET se kanaalhoof, Karen Meiring, in die Glitterati-ateljee om te gesels oor die kanaal se planne vir die volgende jaar. Julle sal ook weer 'n hele paar ou bekendes sien as van ons vorige kontinuiteitsaanbieders kom gesig wys.

En elke Sondag in November stap ons terug deur tyd met van ons heel eerste programme.


3 splinternuwe kykNET-programme in November


1. Op 2 November begin Kyk hoe lyk ons nou, 'n reeks van 4 episodes oor die doen- en dink-dinge van die Afrikaanse gemeenskap. Chris Chameleon is die aanbieder.

2. Landbousake sal ons vroegoggendkykers vanaf 3 November af inlig oor alles en nog wat van die landboubedryf.

3. En 28 November skop Reik na die Sterre af waarin van ons land se voorste musieksterre kykers sal vermaak in 'n verskeidenheid musiekstyle.

Wat sê Karen Meiring?
"Dis tien jaar later en ons betree 'n hoogs opwindende fase. Ons hoop om in die komende dekade baie nuwe gehalte-programme en hoogtes te verken. Dankie aan al die pioniers en lojale ondersteuners van kykNET en vir die goeie boustene waarop ons verder kan werk - want ons is en bly net Afrikaans vir almal"