Kylie Jenner het miljoene volgelinge op sosiale media wat haar en (die afgelope vier maande) ook haar babadogtertjie, Stormi Webster, se lewe dophou. 

Tydens haar swangerskap het sy uit die kollig verdwyn, maar ná Stormi se geboorte het die trotse nuwe mamma gereeld babafoto’s op Instagram en Snapchat gedeel.

Aanhangers was dus verras toe die foto’s van Stormi oor die naweek skielik verwyder is.

Volgens die jongste Kardashian-Jenner-sussie plaas sy nie meer foto’s van haar dogtertjie se gesig nie nadat sy dreigemente van ontvoering en nare kommentaar ontvang het.

i spy with my little eye...

A post shared by Kylie (@kyliejenner) on


Die meeste sosialemedia-gebruikers deel foto’s van hul kinders bloot om in kontak met vriende en familie te bly. In die oortreffende trap is daar egter ook dié wat miljoene volgelinge lok met wat hulle van hul kinders deel. Nou is daar ’n naam vir die verskynsel: “sharenting”, ’n woord afgelei van “share” en “parenting”. 

Verlede jaar is in ’n Amerikaanse studie bevind dat 63% van alle ma’s in die VSA Facebook-gebruikers is. Van hulle deel 97% foto’s van hul kinders, 89% gee “status updates” en nog 46% deel video’s. 

Maar dit lyk nou of al hoe meer ouers in Kylie se voetspore volg en “sharenting” heroorweeg. In ’n onlangse Britse peiling het 57% van ouers aangedui dat hulle nooit foto’s of inligting van hul kinders sal deel nie. 

Hier’s die vernaamste redes waarom mense dink voor hulle deel:

1. Aanlyn = vir ewig 

Op sosiale media voel dit dalk asof alles tydelik en van korte duur is. Wanneer jy egter iets deel en dit versprei, kan dit vir ewig op die web wees. Dit is soos om ’n sak vere uit te skud – jy gaan nooit weer al die vere in die sak terugkry nie.

Sit jy ’n “snaakse” foto van jou kind op Facebook, watter impak kan dit later op sy gevoel van eiewaarde, sy beeld by die werk en selfs verhoudings hê? Sal jou kind eendag gelukkig wees met die foto’s van hom wat jy nou vryelik deel? 

Klein Chloe se ma het ’n video van haar op YouTube geplaas. Hierdie video is al meer as 17 miljoen keer gekyk en derduisende meme’s daarvan word versprei. Vier jaar later en Chloe is ’n YouTube-ster wat oral op straat herken word – teen wil en dank. 

2. Reg op privaatheid en vrye keuse 

Party mense deel om etiese redes nie foto’s van hul kinders nie. Kinders word ongevraagd betrek by ’n aanlyn kultuur waar hulle deur vreemdelinge vergelyk en beoordeel word na aanleiding van hoeveel “likes” hulle kry. Ouers kan kinders in die proses gebruik om hul eie beuel te blaas. 

Ashton Kutcher en Mila Kunis het besluit om niks van hul kinders op sosiale media te deel nie. Die bekende ouerpaar voel hul kinders moet eendag self kan besluit wat hulle aanlyn wil deel. 

“My kinders het ’n reg op privaatheid en ’n private lewe; dit is groter as my reg om foto’s van hulle te deel. Skep jou eie sosialemedia-profiel eerder as om een ongevraagd vir ’n kind te skep,” het Ashton gesê. 

3. Onregmatige gebruik en veiligheid 

Wanneer jy foto’s van jou kinders plaas en die stelling is “public”, dan raak die foto openbare eiendom. Die foto’s mag nie vir kommersiële doeleindes soos advertensies gebruik word nie, maar dit kan maklik in ’n artikel geplaas of op ander platforms gedupliseer word. 

Plaaslike bekendes soos Bobby van Jaarsveld en die voormalige Mej. Suid-Afrika Rolene Strauss deel selde foto’s van hul kinders. Wanneer hulle wel een deel, is dit van agter geneem. Veral bekendes se foto’s kan maklik deur die media of aanhangers vir hul eie doeleindes gebruik word. 

Jou kind se veiligheid moet ook in ag geneem word. Kan iemand toegang kry tot jou kind se persoonlike inligting: sy ligging, kleuterskool of dagmoeder, ouderdom of gewig? Dit klink dalk privaat, maar dit is maklik om aanlyn in die hande te kry deur te kyk na die ouers se “check-ins” of watter skole en dagsorgsentrums die ouers “like”. Hierdie inligting kan gebruik word vir afpersing, ontvoering en identiteitsdiefstal. 

Daar is ’n oplossing:

1. Gaan jou privaatheidstellings na op Facebook. Maak seker jy deel foto’s slegs met vriende op Facebook – en kyk dat jy die mense op jou vriendelys vertrou. Jy kan ook foto’s en inligting slegs met “close friends” (klein groepe uitgesoekte vriende en familie) deel. Onthou: Jou profiel- en "cover"-foto is nie privaat nie en die publiek kan dit vir enigiets gebruik.

2. Let op die inligting wat jy plaas, soos jou kind se verjaardagpartytjies, ligging, dagmoeder, ens. Dit kan maklik deur misdadigers gebruik word vir bedrog of nog erger – vir ontvoering of afpersing. 

3. Maak seker jou Instagram-profiel is privaat. Vreemdelinge kan maklik ’n skermgreep van jou foto’s neem en dit dan versprei. 

4. Moet nooit foto’s van jou kind of baba deel wat jy nie van jouself sou deel nie. Is die kind in ’n bad? Skree hy blou moord? Kan die video of foto later ’n vernedering vir jou kind wees? Al is dit ’n private foto, kan dit permanent ’n foto in openbare besit raak. 

5. Wanneer jy foto’s of video’s met oumas en oupas, vriende of familie deel wat ook aktiewe Facebook-gebruikers is, moet jy duidelik kommunikeer as hulle nie die materiaal mag aanstuur of deel nie. 

6. Oorweeg dit om glad nie foto’s of inligting van jou kinders te plaas nie.