Deesdae is dié aktrise byna meer bekend vir haar motiveringspraatjies as vir haar rolle in produksies soos Binnelanders. Oud en jonk vind aanklank by haar boodskap dat elke mens ’n ‘eie beste self word’. Maar in 2017 gaan Leandie met klomp dinge besig wees.

Sy gaan aan ’n nuwe boek begin werk.

“Dit sal deels daaroor gaan dat ons moet ophou om vir ’n checklist en volgens ander mense se standaarde te leef. Want sodra jy iets aftik, sal daar nog iets wees. Leef in die oomblik en volgens jou eie resep. Ek dink dis veral vir my generasie moeilik, want die baby boomers het ons in sulke boksies probeer dwing: Jy moet getroud wees teen dié ouderdom, jy mag nie gay wees nie, jy moenie dit of dat doen nie. Maar so what! Hou op om ander mense te oordeel, want dit het niks met jou te doen nie.

“Dit beteken nogtans nie jy moet net laat gaan nie. As jy nie gemaklik is in jou lyf nie, doen iets daaraan. Maar moenie dit doen omdat jy dink jy móét nie.”

Sy het baie planne vir die jaar wat voorlê. Tans is sy op kykNET te sien as die aanbieder van Slank, ’n werklikheidsreeks wat 13 mense se reis volg terwyl hulle gewig verloor.

In Maart verskyn die Deon Meyer-aksiefliek Jagveld, waarin sy een van die hoofrolle vertolk. Teen Februarie begin die verfilming van Vuil wasgoed, die kortfilm-wenner by die Silwerskermfees in 2014 wat nou in ’n vollengtefilm omskep word. Sy speel daarin en is ook betrokke by die vervaardiging.

_LCR2953 FOTO Leana Clunies-Ross

Saam met Bouwer werk sy ook aan ’n filmproduksie wat hopelik vanjaar nog die lig sal sien.

“Ek wil my horisonne in die filmwêreld begin verbreed en ons wil ons eie rolprente begin maak. Ek stuur ook opnames in vir internasionale oudisies. Dis die volgende stap in my loopbaan; al is ek net die een wie se kop in ’n fliek afgeblaas word, om net iewers te begin. Die manier hoe dinge daar gedoen word – Suid-Afrika se hande is nog ’n bietjie afgekap, want die begrotings oorsee is soveel beter.”

Die een ding wat nog nie ’n prioriteit is nie, is ouerskap.

“Dit maak my nog te bang om kinders te hê – die verantwoordelikheid! Daai hele kind se wese, gedagtes, toekoms is in jou hande. Ek is nog glad nie reg daarvoor nie,” sê sy met pieringoë.

Eendag sal sy wel seker wil maak haar kinders leer van kleins af om hulself te wees.

“Ouers dwing so dikwels hul kinders om soos hulle te word. Ek sê in my praatjies: Laat jou dogter ander sportsoorte as jy doen, laat haar meer butch wees, laat haar meer girly wees. Dis oukei! Ek glo dis hoe ’n kind eiewaarde leer, en dit is so belangrik.”

Lees die volledige onderhoud in jou Januarie-uitgawe, laaste week om te koop.

januarie 2017 leandie du randt

Kyk die nuutste lokprent van Jagveld:

Lees nou

WEN kaartjies na ’n voorskou van Koos Roets se Hoener met die rooi skoene

Vir Scott Ramsay is die natuur sy heilige plek

Dekor trends vir 2017