Om 11h vanoggend het Lee-Ann Liebenberg die nuus op Twitter gebreek: "My beautiful, perfect and healthy daughter was born this morning".

Gia van der Walt is vanoggend (25 Oktober) om 07h47 in die Park Lane-kliniek gebore en weeg 3,26 kg. Dit gaan glo goed met ma en baba.

"Dit is sekerlik een van die mees asemrowende oomblikke wat ek nóg beleef het. Om vir Lee-Ann te sien waar sy ons dogtertjie vashou, een van die mooistes van my lewe.. Gia lyk soos Lee-Ann. Haar gesiggie lyk na hare en haar neus... Sy's die mooiste iets wat ek nog ooit gesien het," het van der Walt gesê. 

Trotse ouers Lee-Ann (27) en Nicky van der Walt (30), polospeler en besigheidsman, het vroeër vanjaar tydens 'n romantiese wegbreek na Indië verloof geraak. Lee-Ann het vroeër gesê dat sy droom van 'n troue in St Tropez, Frankryk. Hulle beplan nou om in Maart 2011 in Kaapstad te trou.

Lee-Ann, 'n voormalige Sports Illustrated swemklere-model, sal weer volgende jaar op die loopplank te sien wees. Nicky het ook sy polo-spelery vir 'n wyle opsy geskuif.

"Ons fokus nou op mekaar, ons dogtertjie en op ons pragtige gesin."