Elkeen het iets. Borrelende selfversekerdheid, ’n porselein-gelaat, innerlike krag. Maar dít het almal gemeen: styl, grasie en skoonheid. Ons het ons 10 finaliste afgeneem soos hulle op ’n SARIE-voorblad kán lyk.

Onthou! Jy kan saam kuier wanneer ons die wenners bekend maak. SARIE, die finaliste, Bobby van Jaarsveld, Elma Smit, Charlize Berg én ons borge Revlon, Samsung, Clicks en spree gaan daar wees. Kry jou kaartjie hier: http://bit.ly/1nLANBH

ANKIA BOTHA

(18) MATRIEKLEERLING, GEORGE

FOTO: Leana Clunies-Ross FOTO: Leana Clunies-Ross

Wie’s die trotsste omdat jy die top-10 gehaal het?

My ma, Annelie, pa Berrie, broer Barry en kêrel Helgard Terblanche. Almal by die Hoërskool Outeniqua.

Wat wil jy studeer?

BA Regte deur Unisa.

Het jy stokperdjies?

Ons bly op ’n melk- en beesplaas en ek’s ’n buitelug-mens. Lief vir boeklees, versot op die see, verslaaf aan 7de Laan.

Wat’s die slaggate vir jongmense op sosiale media?

Dit kan jou selfbeeld bou of knak. Jy meet jouself dalk aan die hoeveelheid “likes” wat jy vir jou selfie kry. Dit neem persoonlike kommunikasie tussen kinders, en tussen kinders en hul ouers, weg. Ons behoort eerder met ons ouers te praat as dit op Facebook deel.

Wat maak jou kwaad?

Mishandeling van vroue en kinders.

Wat sal jou droomwerk wees?

Advokaat, wat spesialiseer in gesinsgeweld-sake.

Hoeveel keer per dag kyk jy in die spieël?

Elke keer as ek verby een loop!

Hoekom dink vroue hulle is nie mooi nie?

Die samelewing skep ’n wanopvatting oor skoonheid, dan vergelyk ons onsself met ander. Ons moet almal onthou, elkeen is uniek.

NINETTE THERON

(43) OOGKUNDIGE ASSISTENT, PARKHURST

FOTO: Leana Clunies-Ross FOTO: Leana Clunies-Ross

Waarna sien jy uit?

Ek en my verloofde, Newton Coghlan, trou in Oktober 2015. Hy’s my beste maat en so goed met my kinders, Juandré (16) en Dorméhl (14).

Wat leer jy jou dogter oor vrouwees?

Versorg jouself innerlik en uiterlik sodat jy trots kan wees op jouself.

Enige stokperdjies?

Gim, stap, perdry. Sing is my groot passie. Ek het al ’n voorvertoning gedoen vir Theuns Jordaan en Kurt Darren. Ek droom daarvan om eendag ’n suksesvolle sangeres te wees.

Jou grootste uitdaging nog?

Om my kinders as enkelouer groot te maak. (Ek’s nege jaar gelede geskei.) Dit maak my trots om te sien hulle is gebalanseerde, gelukkige tieners. Ek het op ’n plaas by Beaufort-Wes grootgeword en ek leer hulle dit maak nie saak wat jy bereik nie, onthou altyd waar jy vandaan kom en wie jy is.

Wat is jou slegste eienskap?

Ek’s ’n sore loser!

Hoe voel jy oor oud word?

Dis nie vir sissies nie! Ons behoort wat ons nou het meer te waardeer, voluit te leef in die nou.

Wie is die mooiste vrou ter wêreld?

Sophia Loren. Sy is op 79 nog pragtig.

Beskryf jouself in een woord?

Karakter.

MELONY DE JAGER

(43) BED & ONTBYT-EIENAAR, BEAUFORT-WES

FOTO: Leana Clunies-Ross FOTO: Leana Clunies-Ross

Wat leer jy jou kinders?

Al word my kinders, Terblanche (17) en Mignon (15), bevoorreg groot, leer ek en my man, Hennie, hulle dat sukses harde werk verg.

Vertel meer oor jou stokperdjies.

Ek verkoop juwele en velsorgprodukte, ek is op reëlingskomitees [soos die Hartsfees] op Beaufort-Wes en ek is betrokke by ’n tehuis vir gestremdes. Ek toer een keer per jaar oorsee saam met my vriendinne.

Het dit guts geverg om as ouer vrou in te skryf?

Ek hou van my kokon, ek is bang dat ek mense gaan teleurstel. My seun het gesê: “Mamma het ’n goeie kans!” Tot hy gesien het daar is ’n jong blondine in die top-10! [Lag.]

Watter eienskap het jou gehelp om die top-10 te haal?

My stylvolheid, vroulikheid en grasie.

Soos wie wil jy´ lyk?

Die voormalige Mej. Heelal Margaret Gardiner.

Hoekom is Afrikaans vir jou belangrik?

Dis nie net ’n taal nie, dit gaan oor tradisies en waardes. As dit Steve Hofmeyr se manier is om die kultuur te laat voortleef deur Die Stem te sing, laat hom toe – hoewel ek dink hy het dit ’n bietjie te ver gevat. Ons moet ander kulture respekteer sodat ons eie kultuur behoue kan bly.

Môre ontmoet ons nóg van die finaliste voordat ons Dinsdag, 9 September, aankondig wie die wenners is!

Voorbladgesig

Onthou! Jy kan saam kuier wanneer ons die wenners bekend maak. SARIE, die finaliste, Bobby van Jaarsveld, Elma Smit, Charlize Berg én ons borge Revlon, Samsung, Clicks en spree gaan daar wees. Kry jou kaartjie hier: http://bit.ly/1nLANBH

Voorbladgesig