Leon Schuster se nuutste fliek, Schuks Tshabalala's Survival Guide to South Africa, het tot nou toe alle plaaslike loketrekords oortref toe dit meer as R37 miljoen ingepalm het. Dié fliek is amptelik die derde mees suksesvolle fliekvrystelling in Suid-Afrika ná Avatar en Titanic.

Sy vorige flieks, Mr Bones en Mr Bones 2, lê in die vierde en vyfde plek op die lys van mees winsgewende flieks van alle tye in Suid-Afrikaanse fliekteaters.

G'n wonder dat Schuster gisteraand dié gesogte toekenning van Ster-Kinekor ontvang het nie. Sy vermoë om Suid-Afrikaanse gehore te lees en flieks te vervaardig wat tot hulle spreek, maak van dié fliekmaker 'n legende in die bedryf. Ster-Kinekor het ook onlangs hulself geherposisioneer as "Your Happy Place" - iets wat Leon keer op keer regkry wanneer sy flieks in dié teaters draai, sê Fiaz Mahomed, die hoof uitvoerende beampte van Ster-Kinekor Teaters.

Talle bekendes in die plaaslike fliekbedryf waaronder regisseur Gray Hofmeyr, aktrise Mary-Anne Barlow en vervaardiger André Scholtz het die geleentheid bygewoon.

* Lees ook Leon Schuster se lewenslesse, hoop en vrese.