Vyf jaar het verloop sedert ons laas vir Lika in die rol gesien het van kapt. Lena Evans, ’n forensiese sielkundige in die polisie. Lena is intussen getroud en nou die ma van ’n jong seuntjie.

Saam met kol. Piet (Byl) van der Bijl, gespeel deur Waldemar Schultz, is sy deel van die gedugte span wat in elk van die 14 episodes ’n nuwe saak moet oplos. Die deurlopende storielyn is gelaai met drama, onverklaarbare gebeurtenisse en intrige.

die byl
kol. Piet van der Bijl (Waldemar Schultz) en kapt. Lena Evans (Lika Berning)

In die res van die rolverdeling is ook top-akteurs soos Milan Murray, Marvin-Lee Beukes, Eric Nobbs, Barbara-Marié Immelman en Tertius Meintjies. Rolanda Marais maak haar verskyning as Byl se eksvrou, Carien.

kykNET en Showmax het kragte saamgespan om die gewilde reeks se opvolg te vervaardig. In die regisseurstoel is die talentvolle trio Liezl Spies, Leon Kruger en Quentin Krog.

Quentin het flieks soos Ballade vir ’n enkeling en Vir die voëls op sy kerfstok. Net sy aandeel alleen beloof al klaar dat Die Byl iets besonders gaan wees.

Die Byl
'n Skermgreep uit Die Byl

Die Byl begin in Julie eksklusief op Showmax en volg later die jaar op kykNET.