Lika is veral bekend vir haar rol as Hannah Rossouw in Binneland Sub Judice en as Liefling in die gelyknamige fliek teenoor Bobby van Jaarsveld. Sarie.com het meer gaan uitvind oor die watergeboorte.

Waarom het julle besluit op ’n watergeboorte?
Blykbaar is dit vir die baba die natuurlikste oorgang, en die minste stres, om vanuit water in water in te beweeg. Die warm water is ook fantasties vir die pyn van die kontraksies. Ek kan gemaklik handeviervoet lê, en dié posisie is die beste vir 'n vinnige geboorte, met geen druk op jou lae rug nie.

Gaan die geboorte by die huis of in die hospitaal plaasvind?

Ons gaan probeer vir 'n tuisgeboorte. In my eie ruimte is ek in beheer oor die atmosfeer en omgewing vir my seun se eerste oomblikke.

Geen skerp ligte en onnodige prosedures nie. Ek kan kersies brand en musiek speel en ek sal minder geïnhibeerd voel - as ek moet brul soos 'n leeuwyfie, dan kan ek!

Hoe gaan mens te werk om ’n watergeboorte by die huis te doen?

Ons het 'n geboortebad gehuur, wat 1000L water neem, 'n regte swembad. Genoeg plek vir my en my man. Die staan al reg in die sitkamer. Die vroedvrou sal natuurlik by wees, en as daar enige komplikasies is, het ek 'n bespreking by die naaste hospitaal.

Wat is die geslag van die babatjie?

Ons verwag 'n seuntjie!

Het hy al ’n naam?
Ons het nog nie 'n naam gekies nie... Ons het 'n geheime lysie!

Hoe voel jy nou in die laaste tyd van jou swangerskap?
Dit is regtig die wonderlikste tyd vir my, ek is mal oor swangerskap! Ek was lanklaas so gesond en voel sterk, en geseënd!

Die mannetjie kan nou enige dag sy verskyning maak, die swembad staan reg en ons kan nie wag nie!