Só lui kykNET se amptelike verklaring op hul Facebook-blad: Na aanleiding van die kykers se reaksie en verskeie briewe in die media oor Lindie Stander, wil kykNET almal net op hoogte bring... Die kanaal is ten nouste betrokke by Lindie se herstelproses. Sy is een van ons gewaardeerde medewerkers wat ‘n lang verbintenis met kykNET het. Niemand het nog ooit getwyfel oor haar uitsonderlike talent en vermoëns nie en ons is baie bewus van die gewildheid van haar karakter in Binneland. Dis egter nie waaroor dit gaan nie.

Haar huidige ineenstorting is die jongste in ‘n opeenvolging van voorvalle oor die afgelope paar jaar waarin daar verskeie pogings aangewend is om haar te help. Met groot deernis en simpatie. Dit het geleidelik duidelik geword dat hierdie pogings nie meer voldoende is nie en die vervaardigers is genoop om stappe te doen omdat sy nie meer in staat was om te funksioneer en haar werk te doen nie.

In geen stadium het dit oor iets anders as haar persoonlike welstand gegaan nie. Vir ons almal is dit nou prioriteit om seker te maak sy kry die regte behandeling en ondersteuning om haar op die pad van herstel te help.

Lindie kry op die oomblik met die volle ondersteuning van kykNET professionele hulp en behandeling. Die beste wat ons almal vir haar kan doen, is om haar nou met rus te laat sodat sy in privaatheid kan konsentreer op haar herstel en persoonlike geestesgesondheid.

Wees verseker dat kykNET daar is vir haar en nog altyd was.

En só het Lindie Stander vroeër vandag (11 Julie) op haar Facebookblad geskryf

Aan my vervaardigers Elsje en Friedrich Stark; aan Karen Meiring van Kyknet....ek weet nie hoe om my dankbaarheid uit te spreek nie. Aan al die ondersteuners....verstaan seblief hulle doen hulle bes om my te help, en daarsonder sou ek nie kon herstel. Aan my ware vriende en 'fans'....ek het weer rede om te baklei. Maar bowenal: Aan God al die eer....Skepper het my op my kniee gedwing,ek is niks sonder Sy genade.