Kourtney Kardashian het slegs 6 maande ná die geboorte van haar dogter, Penelope, haar ekstra gewig afgeskud, maar sy erken dit was nie maklik nie! Dié ma van twee (Mason is nou 3 jaar oud) het 20 kg verloor deur haar porsie-grootte te beperk en kardio-intensiewe oefening te doen.

“Dis moeiliker om die gewig die tweede keer te verloor,” sê die 33-jarige realiteitster. Sy het die fiksheidsguru vir die sterre, Tracy Anderson, se 90-minute dansroetines gevolg en die oortollige gewig letterlik afgedans.    

Kourtney se klein 1.5 m, 48 kg-lyfie verskyn in ’n geel bikini op die voorblad van die Amerikaanse tydskrif US Weekly. En hulle sê dié foto is nie ge-photoshop nie.  

“Dié keer fokus ek om ’n goeie ma vir my kinders te wees. Ek weet nou wat my prioriteite is.”

Die sangeres Jessica Simpson het ook die gewig ná haar eerste swangerskap verloor en is nou weer swanger met haar tweede.

Die 32-jarige het onder erge kritiek deurgeloop toe sy byna 32 kg met die swangerskap van haar dogter, Maxwell, in 2012 opgetel het. Sy het met behulp van die Weight Watchers-program 27 kg in 5 maande verloor.     

In 'n splinternuwe advertensie vir dié gewigsverliesprogram, het Jessica saam met sanger Jennifer Hudson – wat self 36 kg met dié program verloor het – verskyn.