Die Jolie-Pitt Provensaalse herehuis, Château Miraval, is 'n miernes van bedrywighede met reëlings vir 'n groot partytjie, Brad se ouers wat reeds uit Amerika gearriveer het en gerugte dat Robert Procop, die juwelier wat Angelina se verloofring én haar juwelereeks saam met haar ontwerp, ook die naweek in die Franse dorpie verwag word.

Brad se groot vriend, Hollywood-akteur George Clooney, sal na verwagting ook deel wees van die vieringe.

Brad en Angelina het in 'n verrassende stap in April verloof geraak. Daar is al geruime tyd berig dat die groot bruilof op hul Franse landgoed sal plaasvind. Daar is 'n private kapel op die landgoed, maar volgens Franse wetgewing sal die twee in die stadsaal op die dorp moet trou. Bouwerk aan 'n groot onthaalsaal op hul landgoed is kort ná hul verlowing begin.