Die aktrise Elizabeth Taylor, seker een van die 20ste eeu se grootste Hollywood-sterre, is gister in die ouderdom van 79 aan hartversaking oorlede.

Sy is veral bekend vir haar rolle in Who's Afraid of Virginia Woolf? en Butterfield 8, waarvoor sy albei 'n Oscar gekry het, Cleopatra en National Velvet.

Maar geen storielyn was só kompleks soos die van haar eie lewe nie. Haar skoonheid, talent en onstuimige liefdeslewe het gesorg dat sy altyd in die kollig was. So is sy agt keer getroud, waarvan twee keer met Richard Burton teenoor wie sy gespeel het in 12 verskillende flieks!

Maar selfs teen die einde van haar lewe het sy dié roem gebruik in haar liefdadigheidswerk wat veral gefokus het op MIV en vigs.

Hoewel sy 'n omstrede lewe gelei het, waaronder alkohol- en pynpil-verslawing tel, is sy steeds 'n ikoon wat nog lank onthou sal word.

Op Facebook het julle gesê julle sal haar onthou vir:

Elize van Jaarsveld: Haar tydlose skoonheid.

Tersia Cloete: Die mooiste blou oë, sy was beeldskoon.

Rina Kleynhans: Net dat sy beeldskoon was, diamante en altyd in liefde bly glo het.

Elsje Holmes: Haar skoonheid, sprankelende persoonlikheid en haar liefde vir Richard Burton. Al het hulle geskei, het sy hom altyd innig lief gehad.

Mariana Els: Die mooie onskuldige dogtertjie met die pers oë in die Lassie-fliek wat my so laat huil het!