Huffington Post berig dat Brad ewe rustig sy handtekening uitgedeel het, toe ’n persoon oor die heining gespring het en hom vermoedelik probeer aanval het. Die polisie het bevestig dat die verdagte wat hulle aangekeer het vir Brad in die gesig geslaan het. Dit kon nie té ernstig gewees het nie, want Brad het daarna net aangegaan om sy handtekening uit te deel en vir foto's te glimlag. Dié voorval het by die première van Maleficent plaasgevind. Angelina Jolie én haar 5-jarige dogter Vivienne Jolie-Pitt speel in dié fliek. Die polisie het aan die nuusstasie KTLA gesê dat die verdagte, die 25-jarige Vitalii Sediuk, van aanranding aangekla word. Hy is vrygelaat op borgtog van $20 000 (sowat R 209 000).

Nie die eerste keer nie

Dit is nie die eerste keer dat Vitalii bekendes se pret versuur het nie. Dié joernalis van Oekraïne het vroeër vanjaar probeer om onder die rok van aktrise America Ferrer (Ugly Betty-ster) in te kruip terwyl sy op die rooi tapyt geloop het. Kyk na die foto's hier.

Hy het ook in 2012 vir akteur Will Smith op die mond probeer soen, waarna Will vir hom met ’n klap goed laat verstaan het hy is nie welkom nie. Hy het ook al vir Bradley Cooper om die middel gegryp en hom gedruk en wou nie laat gaan nie.

Volgens Huffington Post  meen Vitalii hy skeer net gek met die bekendes. Maar dit lyk of dit net hy (en sy bankbestuurder) is wat lag ...

Bronne: Huffington Post,KTLA, Huffington Post