Ja, die komediant en storieverteller Margit Meyer-Rödenbeck, oftewel Dowwe Dolla, en aktrises Lizz Meiring en Nicole Holm snoer kragte saam om die komedie-drama Drie Susters op die planke te bring. Die teks is uit die pen van Die Boekklub-skepper Louis Pretorius.

"Susters, ook vriendinne wat soos susters is, sal jy altyd saam mee oorlog toe kan gaan," sê Margit.

Die afgelope jaar sien ons gereeld hoe talentvolle vroue bymekaar kom om stories te vertel. Dink aan Reese Witherspoon en Nicole Kidman met die Amerikaanse reeks Big Little Lies. Op eie bodem Diaan Lawrenson, Quanita Adams en Leah met die Afrikaanse fliek Susters. En later vanjaar Stroomop, 'n fliek wat handel oor vyf vroue wat die Oranjerivier aandurf vir "avontuurterapie". Donnalee Roberts, Simoné Nortmann, Chantelle de Jager, Carla Classen en Ilse Klink is in die rolverdeling.  

Vroue is meer as net vriendinne, susters en bondgenote vir mekaar. Hulle is ook mekaar se ondersteuningstelsel. En volgens Margit nodig om veilig te wees. Dis temas soos dié wat aangeroer word in die verwerking van Drie Susters wat by die Innibos-kunstefees in Mbombela (Nelspruit) en die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein opgevoer gaan word.

FOTO Drie Susters

Die stuk speel af op die lughawe waar die drie susters wag vir 'n vlug na Thailand, maar die vlug word vertraag.

Hier's 'n voorsmaak: Christine (Lizz Meiring) vier haar 50ste verjaardag. Die vakansie in Thailand was 'n geskenk van haar tweelingsusters, Anel (Margit Rödenbeck-Meyer) en Bianca (Nicole Holm). Hulle weet sy is bang vir vlieg. Anel het (al weer) 'n ogie op 'n aantreklike man. Bianca is hoog op kalmeerpille en vas oortuig sy het hul verlore ma gesien. Christine droom net van stilte. Absolute stilte. Sy wens soms haar man en seuns wil verdwyn.  

Die susters verwyl die tyd met kaarte, boeke en cappuccino’s. En deur mekaar se lewens uitmekaar te trek. En natuurlik word ou koeie uit die sloot gegrawe. En volgende? 

SARIE is 'n trotse mediavennoot!

Sien Drie Susters hier:

INNIBOS KUNSTEFEES - NELSPRUIT

27 Junie om 15:00

28 Junie om 09:00

29 Junie om 19:00

30 Junie om 14:00

Koop kaartjies by Computicket.

VRYSTAAT KUNSTEFEES - BLOEMFONTEIN

10 Julie om 10:00

11 Julie om 20:00

12 Julie om 13:30

14 Julie om 13:30

Koop kaartjies by Computicket.