Maria Sharapova se sukses op die baan het ook vir haar sakesukses besorg. Nie net help sy met ontwerpe en advertensies vir Nike en TAG Heuer nie, maar nou is sy ook baas van haar eie maatskappy, Sugarpova.

En die eerste produk wat Sugarpova op die rakke het, is lekkergoed. Maria, wat lief is vir soetgoed, het as kind lekkers as beloning vir ’n goeie tennisoefening gekry.  

Nou bou die 25-jarige ’n maatskappy op die rug van dít waaroor sy mal was as kind: lekkergoed. Sy het haar eie geld ingestoot (ongeveer R4,5 miljoen) om Sugarpova se lekkergoed-reeks op die been te bring.  

“Vir eers vind Sugarpova haar voete met die lekkergoed. Maar in die toekoms sal daar ook ’n klere- en kosmetiese reeks wees,” sê die tennisskoonheid wat in Rusland gebore is.

Die lekkergoed is in mooi helder verpakkings wat, volgens haar hoof- uitvoerende beampte, dit van ander lekkergoed onderskei. Dit is hoofsaaklik jellie-lekkers, selfs ’n soort wat soos tennisballetjies lyk!

Maria Sharapova se Sugarpova lekkergoed-reeks

’n Pakkie Sugarpova-lekkers sal jou wel 6 keer meer uit die sak jaag as die gemiddelde lekkergoed op die rak.  

Die lekkergoed is nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar eers net in Amerika en Australië. Dit word later die jaar uitgebrei na ander wêrelddele soos die Verenigde Koninkryk, Japan, Kanada, Rusland, Indië en China.

Maria is verbaas oor die goeie verkope in Amerika in die eerste 3 maande wat dit daar op die mark was. “Ons het nie ’n groot begroting vir bemarking en advertensie nie,” sê die tennisster wat al ál 4 die Grand Slam-toernooie gewen het. “[Bemarking] is nie ons groot doel nie, want ek is die gesig van die produk en ek reis die wêreld oor en dan vra mense my uit daaroor.”

Maria Sharapova se Sugarpova lekkergoed-reeks

Maria het bekendheid verwerf toe sy in 2004 as 17-jarige die vroue-enkelspeltitel op Wimbledon gewen het. Met al haar toernooi-geld en geld wat sy kry vir advertensies vir Nike, Samsung Electronics, Tiffany en ander maatskappye, verdien sy jaarliks byna $28 miljoen (ongeveer R250 miljoen).