Dit het ’n ereplek op die kaggelrak van my kothuis in Stellenbosch gekry en kort voor lank het ek so geheg geraak daaraan dat ek dit nie oor my hart kon kry om dit soos ’n doodgewone kers aan die brand te steek nie.

Toe neem ek my voor die dag as Madiba doodgaan, sal ek daardie borsbeeld-kers vir hom brand. Intussen het die Madiba-kers saam met my Frankryk toe gekom, waar dit al in vier verskillende huise uitgestal is, gewoonlik op die kaggelrak.

Dit het lankal meer as net ’n kers geword – eerder ’n soort outydse, ikoniese beeldjie, ’n beskermheilige vir huis en haard in ’n ander land. Solank Madiba bo die kaggel waak, is alles wel, al voel ek soms vreeslik ver van waar ek hoort. Teen hierdie tyd weet ek dat ek nie die kers aangesteek sal kry net omdat ons almal se oupa dood is nie.

Ek sal ’n ander kers koop, ’n lang, wit katedraalkers, om ter ere van hom te brand. Die borsbeeldjie sal bly, op die kaggelrak van my huis tussen die Franse wingerde, en eendag as ek weer langs die Kaapse see gaan woon, sal ek Madiba saam met my huis toe neem.

Bron: Die Burger