Mathys Roets, wat deur die dag per selfoon sy siek maat op die hoogte hou van wat by die ateljee aangaan, som die gees die beste op.

"Ons is 'n klein bedryf waarin mense vir mekaar respek het. Elkeen wil vandag hier wees. Dit wat jy hier sien, dis wie ons is. Ons sal dit almal vir mekaar doen." Mathys begeer dat sy "grootste maat" die liefde van mede-kunstenaars moet ervaar wat hy self na sy ongeluk ervaar het.

Die Met Mathys Trust het sy mediese koste gedek, en met die oorblywende geld al vir 'n hele paar mense rolstoele gekoop, sê Alexa. Mathys voeg by: "Ons wou nie dat die trust doodloop nadat ek begin herstel het nie.Ons sorg dat daar altyd reserwes is ingeval iemand in die bedryf siek word of in 'n ongeluk beland." Met sy ongeluk was Lucas elke dag langs sy bed.

"Hy het soveel vir my gegee dat ek nie eens kan begin om te probeer teruggee nie." Hy beskryf Lucas as 'n onselfsugtige mens wat onvoorwaardelike vriendskap bied.

"Dit raak my hart dat soveel kollegas vandag hier is vir ons ou maat. Dis ons beurt om terug te gee." Hy sê die atmosfeer verpersoonlik die mens-wees agter kunstenaars: vriende wat by mekaar staan in moeilike tye.

"Hulle is nie vandag sterre nie, hulle is mense wat omgee."

Jakkie Louw is een van die kunstenaars wat Alexa nie eens hoef te gevra het om deel te neem nie.Hy het gevolunteer. "Hoe dan anders? Ek wil mos ook iets doen vir die beste luisterliedjieskrywer in Afrikaans."

Kurt Darren glo die man "met die glimlag op sy gesig en in sy stem"kan 'n diep insig in een strofe saamvat, waar ander honderde woorde nodig het om dieselfde te probeer sê. "Hy is soos 'n kalmerende seël in die bedryf. Sy invloed strek baie verder as wat 'n mens sou kon dink."

Kyk die Lucas-video