Met ’n onlangse toer van die suide na die noorde van Namibië het Mathys en sy meisie, Jané van Litsenborgh, besluit om die duine in te vaar. “Die grootste uitdaging was om vir Jané te oortuig om my tot bo te help,” skerts Mathys, “Toe sy die duin op haar eie geklim het, het ek net daar besluit ek wil ook op.”

Jané het hom tot bo gehelp, want Mathys wou van bo af ondertoe rol vir ’n foto. Dit is moeilik om met ’n rolstoel in die los sand te beweeg, maar gelukkig het Mathys ’n wieletjie wat vooraan sy gewone stoel kan knip om die pad makliker te maak. Hy sê: “Dit is my stoel wat ek van die begin af het, dieselfde een waarmee ek padwedlope doen.”

Mathys het een optrede by ’n nuwe lodge in Mariental gedoen, en het ook dorpe soos Lüderitz, Windhoek, Swakopmund en Gobabis aangedoen.

Vir honderde mense is Mathys ’n groot inspirasie, maar wat inspireer hom? “Mense om my inspireer my. Net om weer op die rand van die Visrivier-canyon, bo-op 'n duin, of iewers in die middel van die woestyn te kan staan is wonderlik. Sonder die wete dat dit alles steeds moontlik is, sal my lewe baie saai raak.”

Die volgende groot uitdaging wat Mathys saam met sy rolstoel-vriende wil aanpak is om die 300 km van Windhoek tot in Walvisbaai te ‘draf’, en dit op grondpad! Hulle is nog besig om dit te reël.