Dis een van Mathys Roets se gunsteling-liedjies, "Oh Mary", waarin Neil Diamond oor sy hunkering na die vrou van sy drome sing. Hy loop met sy hart op sy mou en sy siel ontbloot:

Oh Mary
You can doubt the world,
But don't ever doubt in me

I sang it once that I'd never leave you
And that's how it's gonna be.

Deesdae sing Mathys ook dié liedjie vir die vrou van sý drome, Margueriet Jones. Dan is daar nog sy ma, Meisie, sy suster, Marié Greyling, en jare lange vriendin Alexa Strachan oor wie hy spesiaal voel.

Hoekom nie 'n CD maak waarin die manne sulke emosies sal teëkom nie? het Mathys besluit. Dalk help dit hulle om so 'n bietjie makliker te praat oor wat in hul binneste aangaan.

So is Droomvrouens gebore - 'n versamel-CD wat Mathys in Februarie met SARIE as media-vennoot gaan uitreik. Hy het langer as 'n jaar met die idee van 'n CD óór vroue vír vroue rondgeloop. Iets wat 'n

 

"Ons verhouding het nie verander ná my ongeluk nie," - Mathys oor sy verhouding met Margueriet Jones.

 

man spesiaal vir jou kan koop om te sê hoeveel hy vir jou omgee - in die woorde van mans wat nie bang is om dit te sê soos dit is nie.

Elke liedjie wat Mathys vir die CD opgeneem het, het 'n vrouenaam in die titel. "Ek het toevallig reeds verskeie liedjies met vrouename by my optredes gesing, soos 'Lisa se klavier', 'So long, Marianne' en 'Sweet Caroline'," vertel Mathys in sy huis in Centurion.

Die afgelope jaar was moeilik

Ná 'n paar verbrekings en aanbouings aan die huis beweeg hy gemaklik rond in sy rolstoel. Verlede jaar was vir hom 'n moeilike jaar. Eers was daar sy egskeiding ná 'n huwelik van tien jaar, en toe in April op pad KKNK toe die motorfietsongeluk waarin hy in sy onderlyf verlam is.

Maar Mathys het nie vir een oomblik briek aangedraai nie. Hy toer die land vol en het selfs sy TV-reeks saam met Alexa, Kamp dit uit, hervat. Nou's hy vuur en vlam vir dié nuwe CD-projek saam met SARIE.

Mathys haal aan met sy diep stem:

Oh Mary
Can you hear my song?
Does it make a mournful sound?
I sang it once when first I saw you
And I sing it to you now.

Vir die eerste keer laat glip hy nou iets oor die vrou in sy lewe

"Dis Margueriet se liedjie. Ons het saam daarna geluister toe ons eenkeer in die berge in Lesotho was.Toe ek nou die liedjie opgeneem het, was sy ook saam in die ateljee en het sy na my gekyk met daai ogies terwyl ek sing."

Mathys en dié 29-jarige sjef gaan al langer as 'n jaar uit. Hulle het verlede jaar ses maande lank 'n langafstandverhouding gehad omdat Margueriet as deel van haar kursus in die Kaap moes werk. Sy het einde November teruggekeer Johannesburg toe en Mathys is in die wolke daaroor.

Hulle droom nou daaroor om saam 'n restaurant in Pretoria oop te maak.

Mathys Roets en sy droomvrou Margueriet Jones Mathys Roets en sy droomvrou Margueriet Jones

"Iets wat intiem is," sê Margueriet tydens die fotosessie. "'n Plek waar mense vir my kan sê waarvoor hulle lus is en ek dit sommer daar maak."

Die paartjie is duidelik verlief en raak gereeld aan mekaar. Margueriet is fyn gebou met grasgroen oë, tonne energie en 'n liefde vir die buitelewe.

"Dis een van die redes hoekom ek en Mathys so goed oor die weg kom." Voor hul liefde begin blom het, het hulle gereeld saam gholf gespeel (sy het dit selfs al oorweeg om professioneel te speel).

"Ons verhouding het nie verander ná my ongeluk nie," vertel Mathys.

"Ons bly steeds maats. Sy hanteer my nog presies dieselfde. Ek waardeer dit baie. Dis ongelooflik hoe Margueriet net dáár is vir my. Sy's baie ondersteunend."