Topmodel Naomi Campbell het in 2010 'n ontwerpersrok van Dolce & Gabbana vir Jo-Ann Strauss se liefdadigheidsprojek, The Princess Project, geskenk. Bekendes skenk hul ontwerpersrokke aan dié projek en minderbevoorregte meisies kan dan hieruit kies vir hul matriekafskeid. 

Jo-Ann het self `n tweedehandse matriekafskeidsrok van die Suid-Afrikaanse ontwerper Dicky Longhurst na haar matriekafskeid by die Hoërskool Hottentots-Holland in Somerset-Wes gedra. "Dit was 'n nr. 40, en ek dra `n nr. 30, maar my ma het dit verstel.“ In 1998 het sy besluit om terug te gee aan minderbevoorregte meisies en The Princess Project begin.

"Ek vra my celeb-vriendinne om hul rokke te skenk vir dié doel.''

Jo-Ann is mede-aanbieder van Top Billing en was tien jaar gelede Mej. SA. Tydens die Wêreldbeker-sokker het sy 20 miljoen Duitse kykers van ZDF (die grootste Duitse TV-kanaal) gaande gehad met haar verskyning op dié kanaal.