Die bekende selfhelp-verhoudingsboek Men are from Mars, Women are from Venus deur John Gray is volgens berigte op pad na die groot skerm. Nuus24 berig dat Summit Entertainment, dieselfde vervaardigers wat die gewilde Twilight-flieks gemaak het, die rolprent- en TV-regte bekom het. Dit lyk op dié stadium asof die fliek dieselfde trant as die sterbelaaide 2009-romantiese komedie He's Just Not That Into You gaan volg.

Gray se eerste Mars/Venus-boek is in 1992 gepubliseer en het vinnig die "bybel vir verhoudings" geword. Meer as 50 miljoen kopieë is in 45 verskillende wêrelddele verkoop. Dit was sowat 7 jaar lank op die New York Times se topverkoperlys.