Die internasionaal bekende sanger Mick Jagger se ontwerper-meisie, L'Wren Scott, is in New York oorlede, berig The Mirror.

Die Rolling Stones-sanger, wat op die oomblik saam met die groep deur Australië toer, gaan glo sedert 2001 met L'Wren uit. Volgens Mick se woordvoerder was die 70-jarige sanger baie geskok om van die nuus te hoor.

L'Wren het al uitrustings vir bekendes soos Nicole Kidman, Angelina Jolie en Penélope Cruz ontwerp. Sy het ook kostuums ontwerp vir rolprente soos Ocean's Thirteen, Eyes Wide Shut en ’n dokumentêr wat die bekroonde regisseur Martin Scorsese oor die Rolling Stones gemaak het.

"Sy was ’n ikoniese vrou wat so baie mense inspireer het en ’n ontwerper wie se bydraes tot die modebedryf uniek én buitengewoon was," sê ’n woordvoerder van die Britse Moderaad.

Die redakteur van Vogue se Amerikaanse uitgawe, Anna Wintour, sê L'Wren was ’n vrolike en vrygewige mens. Sy het op Vogue se webtuiste geskryf dat dié ontwerper ’n perfeksionis was met ’n sterk karakter.

L'Wren is in haar New Yorkse woonstel gevind. Die oorsaak van haar dood is nog nie amptelik bekend nie.

BRON: The Mirroren Vogue