Sommige mense hardloop weg, ander hardloop om te vergeet. Hey, vir al wat ek weet hardloop jy net om daai paar ekstra sentimeters om jou dye weg te sweet! Wat ook al die rede, daar is 'n pas en 'n tempo vir elkeen.

Die draf-gemeenskap is soos 'n nuwe familie waaraan ek behoort. By wedlope groet vreemdes  mekaar met 'n warm glimlag en kennelike kopknik. As jy teen 'n bult uitbeur is dit die atleet wat verby jou kom wat jou die hardste aanmoedig. Ek is weer hierdie afgelope naweek so deur n mede deelnemer verras. Tydens n bergwedloop naby Rustenburg trek ek myself letterlik tree vir tree teen 'n 5 km opdraende uit. My kop hang, my vuiste bal en my oë is gefokus op die kolletjie grondpad voor my. Die eerste atlete is al oppad berg-af by my verby, toe ek een van hulle hoor skree: 'Komaan! Jy's die tweede vrou! Go,go, go!'

Ek het glad nie die ander deelnemers dopgehou nie, so ek was baie verbaas oor my posisie. Nodeloos om te sê, daai motivering was al wat my ego nodig gehad het om aan te hou. Ek het my beste tyd gehardloop, en was die tweede vrou oor die wenstreep, danksy die aanmoediging van 'n vreemdeling.

As ek kyk na mense soos die Ultramaraton-atleet Ryan Sandes met sy prestasie van sub-7 ure deur die Visrivier Canyon hierdie week, en al die super Olimpiese atlete op my TV-skerm, wonder ek hoekom dit my solank gevat het om sport weer deel van my lewe te maak. Op amper-40 is ek sterker as wat ek ooit was... In my lyf en in my kop. En die lesse wat ek uit hierdie ervaring leer is legio.

In my wêreld van TV-rolle, teaterproduksies en media-erkenning word daar baie klem geplaas op die uiterlike. Toekenningsaande word al hoe meer gekenmerk deur die "sexyste nuwe akteur"-toekenning en die aanwysing van die "bes geklede glanspersoonlikheid". So al wat n celebrity is gryp na die botox naald of klap 'n stilis nader. Ek trap ook gereeld in daai slaggat, en dan is daar min dinge wat my so sonder seremonie aarde toe bring, soos 'n wedloop. As ek myself so uitdaag is daar meer wat tel as die hoek waarteen my wenkbrou gewaks is en die etiket op my jean se gatsak. Dis dan waneer jou ware kleure wys. En as ek eerlik moet wees, is dit waaraan ek uiteindelik gemeet wil word. My wilskrag, my gutspah, my binneste en ja natuurlik, talent.

Liewe leser, dankie vir jou ondersteuning. Ek het twee maande oor voor ek die Otter African Trailrun aanpak. Ek is bitter bang. Maar met jou motiveringsgille van die kantlyn af, glo ek ek kan dit deur daai 11 ure maak. Sterkte met jou eie uitdagings hierdie week. Jou berg is dalk groter as myne. Hou moed. Sien my van voor af verbykom en skree: 'Go, go, go!'

Groete van huis tot huis,
Milan