As ek vir kort tye van die huis af moet weggaan, soos vir die afgelope Vryfees in Bloemfontein en die opkomende Aardklop-fees in Potchefstroom, dan maak dit hierdie juggling act soveel meer gekompliseerd.

Oor 'n afstand hanteer jy dan maar die tuinier wat nie opgedaag het nie, die einde-van-die-maand-rekeninge, jou seun se bloedneus en die briefie in jou dogter se skooltas dat sy tog maar 'n spelterapeut moet gaan sien. Ons almal hanteer hierdie uitdagings verskillend. Jane Raphaely skryf in haar boek Unedited dat sy oor die jare die tegniek vervolmaak het om te "smile and wave".

Ek? Ek hardloop.

Of ek nou wakker word in die Vrystaat of van 'n stel af loop in KwaZulu-Natal, daar is altyd 'n berg of 'n vlakte of minstens 'n gim waar ek my hartklop kan opjaag en my kop kan kalmeer. Ek sou seker nooit hierdie luukse leer ken het as ek nie ingestem het om in die Otter-wedloop te hardloop nie. Snaaks hoe ek altyd simpatiek na mense gekyk het wat hardloop. Mal, het ek gedink. En nou beaam ek self die gesegde: The only thing worse than running, is not running.

Ons is hierdie week besig om 'n kort video-insetsel aanmekaar te sit van die pasiënte by die Tygerberg-Kinderhospitaal. Ek wil graag vir kykers wys vir wie ek hierdie Otter-wedloop hardloop en iets vertel van die suksesstorie van die hospitaal. Terwyl ons in die redigeerkamer sit, sien ek weer die gesiggies op die skerm wat ek die afgelope paar maande leer ken het: Emile Lottering – Takayasu's Arteritis & TB, Cameron Clayton – Multiple Sclerosis, Leah Demas - Cancer, Rochelle Phillips - MDR TB, Donnay Benjamin - Chronic Respitory Disease ...

En as ek dan die langpad vat, is dit nie net my eie bagasie en frustrasie wat my vorentoe dryf nie, maar die gesiggies van hierdie kinders. Een tekkie-tree voor die volgende. Asem in, asem uit. Dankbaar dat ek nog asem het ...

Voordat hierdie dagboek-inskrywing te ernstig word ...
Ons kuier onlangs vir 'n paar dae saam met vriende. Hulle is nie die mees sportiewe gesin nie, maar hulle is wel elkeen 'n genie uit eie reg, selfs die 6-jarige. Hy bespeel reeds twee musiekinstrumente en debatteer met my 5-jarige oor die verskil tussen 'n windpomp en 'n windturbine. Op pad, by die voordeur uit vir my laatmiddag-draffie, vra die kind met 'n ernstige frons: "Tannie Milan, wat gaan jy nou doen?" Verbaas dat hierdie slim seun so iets vra, antwoord ek: "Ek gaan gou hardloop, Armin." Die frons op sy voorkoppie plooi dieper. "Waarheen?" vra hy verbysterd.

Touché.

Onthou asseblief om hierdie week jou SMS te stuur om sodoende die Tygerberg-Kinderhospitaal te ondersteun. SMS 'milan' na 38198, en skenk so R10 of meer. Of gaan lees meer oor hierdie wonderlike organisasie op my Facebook-blad Milan vs 'The Otter'.

Die twee moddervoete op hierdie week se foto is myne. My man, Schalk, het my afgeneem tydens 'n twee-uur-oefensessie in die reën by Magic Forest, Durbanville.
Soos ek sê, Mal.

Groete van huis tot huis,
Milan Murray