Sy word nie geborg deur 'n handelsmerk nie. Sys ook nie 'n aktrise met media-belangstelling in haar poging nie. Sy is 'n gewone vrou. 'n Ma van twee. Voltydse fisioterapeut, tuisteskepper, beenmurg-skenker.

Sy is my skoonsuster, Christelle van der Merwe.

Dis oor hierdie vroue wat ek wil skryf in my laaste blog. Die gewone vroue soos jy, liewe leser, wat nie deur 'n borg betaal word om ure lank te oefen nie. Die vrou wat op eie stoom moet tyd maak vir haarself en haar drome.

Meeste mense het n 'bucket list'. Daardie lysie goed wat jy graag sou wou doen voor jy die emmer skop. Vir baie mense sluit dit dinge in wat in 'n oomblik groot waagmoed verg soos om valskerm te spring. Vir sommige is die lysie taamlik duur: 'n Kerslig-ete in Parys, 'n Meditereense-seiljagvaart...

Ek wil jou egter uitdaag om op jou lysie plek te maak vir 'n uitdaging wat tyd, opoffering en fisiese inspanning oor 'n lang tydperk verg. 'n Uitdaging wat jou grense verskuif, wat vra dat jy moeite doen.

Hoekom, vra jy my met jou voete op die rusbank.

Want, liewe leser, jy is dalk gemaklik en tuis waar jy nou is, maar jy is verseker armer. Ek praat nie vanuit die hoogte nie. Ek praat vanuit my posisie hier op die studeerkamerstoel, waar daar nie n plekkie op my lyf oor is wat nie pyn nie. My bobene voel of iemand sandsakke daarin leeggemaak het. My knieë is geswel. My nek wil nie draai nie. Maar 'n glimlag het op my gesig gestol, en hy sit nou al daar vir 3 dae.

Liewe leser, op 15 Oktober 2012 het ek die Otter African Trailrun met daai glimlag voltooi. Vir 10 ure lank het ek vir myself in n spieël gekyk met die enkele slotsom: Dat ek hou van wat ek sien. En dít is hoekom ek se dat jy 'n kans moet vat. Enige kans. Op jouself.

Ek kan nie vir jou die moeilike, tegniese terrein beskryf of eers probeer om die asemrowende beelde langs die pad te skets nie. Dis moeilik, moordend en heerlik bevrydend. Ek het so baie geglimlag. Seker omdat ek myself verbaas het. Ook omdat ek dit tot die laaste pynlike treë geniet het. Tien ure is 'n lang tyd om te dink. Maar ek kan jou verseker, dis onmoontlik om na so 'n reis minder van jouself te dink. Niemand, niemand sal my ooit kan oortuig dat ek minder oukei is omdat ek 'n introvert is, of omdat ek vurig is, of omdat ek depressie het of omdat ek nie vir n rol gekies word nie.

My skoonsus, Christelle, het die liedjie 'Some Nights' van FUN oor en oor gespeel in die motor op pad tussen Kaapstad en Stormsrivier. Ons het soos tieners ge-headbang op die agtersitplek. Dit was ons Otter-'anthem'. En soveel keer tydens my 10-ure-wedloop het ek daardie woorde gehoor: "What do I stand for? What do I stand for? Most nights, I dont know."

Ek is so bly ek kan se: Ek weet nou.

Dankie vir jou saamreis. Die SMS-lyn is nog oop tot op my verjaarsdag 30 Oktober. SMS asb die woord 'milan' na 38198 om R10 aan die Tygerberg Kinderhospitaal te skenk.

Groete van huis tot huis,

Milan

PS: Ek doen die Otter volgende jaar weer. Sien jou dan!