Terwyl ander atlete 'n strawwe oefenprogram volg, voel dit vir my asof ek tyd mors.

Elke week staan ek een dag af om "trappe te oefen". As die Kaapse winterweer my gim toe dwing, gebruik ek die Super Circuit se trap en hardloop een stel enkeltrappe en een stel dubbeltrappe vir 'n uur. Maar as die reën wegbly, kies ek die naaste berg en hardloop die strawwe paadjie tot bo. Dis hier waar berg-hardloop gevaarliker raak as pad-hardloop. Nat klippe is glibberig, groot rotse is gevaarlik en op oneweredige paadjies is vastrap minder vas as wat jy dink. My enkels was maar nog altyd swak, en hierdie week het ek vir die soveelste keer in my lewe my enkel verstuit. Tog!

Baie toeriste en Kaapse inwoners ken die Platteklip-ravynroete as 'n strawwe maar beeldskone oggenduitstappie teen Tafelberg op. Vir atlete wat vir die Otter-veldloop voorberei, is dit 'n trappe-hardloop-ekspedisie wat jy onder 'n uur en 'n half probeer voltooi. Ek is gelukkig om 'n skoonsus te hê wat erger deur die hardloop-gogga gebyt is as ek. Ander skoonsusters onderneem miskien 'n koffie-en-croissant-uitstappie op 'n Sondagoggend. Ek en Stella gaan hardloop Platteklip. Dis hier waar ek so vieslik skeefgetrap het met die afkomslag.

Milan op Tafelberg

Nou ja, ek het nooit gedink ek sal van my man se leer-uitskopstoel hou nie, maar hier lê ek, toegewikkel in 'n kombers. Ek kan nie glo watse snert deur die dag op TV is nie! Tussen al die werklikheidstelevisie en programme oor selfbehepte celebrities en hulle styl wonder ek of my beroep nie dalk besig is om uit te sterf nie ... Koerante en tydskrifte is op die internet beskikbaar, boeke word nou al in elektroniese formaat uitgegee en musiek kan gerieflik van 'n webwerf afgelaai word. Hmmm, ek het duidelik te veel tyd om te tob ...

So ek verskuif my fokus weer terug na die Otter en bestee die res van die oggend om soveel moontlik op te lees oor die wedloop. Ek lees dagboek-inskrywings van atlete, kyk foto's van hoe vorige deelnemers deur Bloukrans swem en maak seker ek het alles op die verpligte lys van benodigdhede. Ek lees ook op sarie.com hoe Dr Michael Mol die Otter-wedloop onderskat het en maak 'n knoop in my oor om te onthou om deeglik en geduldig te wees. Dis moeilik. Veral die "geduldig"-deel.

Liewe leser, hierdie week is 'n toets en ek dink nie ek vaar baie goed nie.
Ek hou jou op hoogte!

Groete van huis tot huis,
Milan