As jy n aktrise is, is jy baie vertroud met die term cattle call. Dis n pyniging, 'n beslommernis en 'n uitstappie wat ek liefs probeer vermy.

In enige beskaafde oudisie-proses kry elke aktrise haar eie tydgleuf om die ingestudeerde toneel voor te lê. Dis 'n gerespekteerde afspraak. 'n cattle call' s egter 'n perd van 'n heel ander kleur. I.p.v. 15 behoorlike minute om jou oudisie voor die kamera af te lê, word al 50 aktrises ( en ook hoopvolle modelle, huisvrouens en wel... enige iemand wat op enige denkbare manier van die oudisie te hore gekom het) soos 'n trop skape in 'n oorvol vertrek geboender. En dan word jou 15 min, 15 sekondes, en jy weet hulle kyk maar net eintlik hoe jy lyk. Dit, is 'n cattle call.

Nou ja, ek het oë gerol en voete gestamp, maar is toe gister traag na my eerste Kaapse cattle call. Gelukkig het die donker wolkie toe 'n silwer randjie. Iewers in die trop van hoopvolles, loop ek 'n ou vriendin raak. Ons het 12 jaar gelede saam ons loopbane begin by die SABC-reeks, Isidingo. Dit was 'n luide weersiens. Die res van die trop het ons nuuskierig bekyk soos ons iPad teen iPad sit om fotos en stories uit te ruil. Ons het amper die oudisie gemis! Ek het haar vertel van my Otter-wedloop, en sy het my genooi na haar gemeenskapstroue.

"Jou wat?!" Ek het nie mooi vertstaan nie. "Hoe meen jy, gemeenskapstroue?"

Nikki het haar opkomende troue in Januarie verduidelik totdat ek later trane in my oë het. Absoluut almal wat genooi word, vorm deel van die reëlings. 'n Saal word gehuur, en die res word deur die 'gemeenskap' van vriende en familie behartig. Jy maak kos of jy doen dekor of jy reël parkering. Iewers gee jy van jou tyd of talente. En nee, sy's nie n Xhosa meisie van die Oos Kaap nie, sy's n Engelse vrou van St. James in Kaapstad.

Na die oudisie filosofeer ons twee toe verder oor die kwessie van gemeenskap en om iewers te behoort. En ek besef, ek het lanklaas die voordeel van gemeenskap so gevoel soos hierdie week. Met my voet nog in die stut was dit moeilik om gemotiveerd te bly. Elke keer as my man sy tekkies aantrek om te gaan oefen of as ek van ander atlete hoor wat regmaak vir die groot wedloop in Oktober, het ek begin twyfel of ek dit enigsins sal kan maak. Maar as daar nou een gemeenskap is waar vreemdes soveel begrip en ondersteuning het vir mekaar, is dit die trailrunning-gemeenskap.

Kyk, ek het helfte van hulle nog nooit ontmoet nie. Ons kuier mekaar op Twitter raak en bespreek dan roetes of toerusting. Baie van hulle gaan loer op my 'Milan vs The Otter-Facebook-blad en bied hulle ondersteuning aan, al is hulle professionele atlete en ek net 'n beginner.
Soos @LanVisser, SA se top vroue-trailrunner wat my aangemoedig het om in die swembad te hardloop terwyl my enkel herstel. Ook @RunTrailcoza wat roetes aanbeveel as ek weg van die huis is en @trailwill, my go-to-guy oor alles van 'compression socks' tot 'running poles'. My trailrunning-skoonsus, Stella, is die eerste een om in die oggend te SMS om te hoor hoe dit gaan, en sy is sommer ook my resident fisioterapeut!

Miskien lê die kameraadskap daarin dat elke trailrunner weet hoe dit voel om jou lyf, kop, geloof en sienswyse só uit te daag en só ver te druk totdat die eerste gruis teen die afgrond begin val. Want elke trailrunner beur verder as wat hy self kon glo. En teen elke berg op, baklei ons teen dieselfde duiwels in ons kop.

Ek lig my glasie mineraalwater dan dankbaar hierdie week. Op elke trailrunner wat saam met my glo 'this is not a set back, it's a set up!'.

Hierdie is 'n trop waaraan ek graag behoort.

Groete van huis tot huis,

Milan