Liewe leser,

Ons dink so dikwels dat daar nie veel is wat ons kan doen oor die afstand van tyd en ruimte nie. Maar daar is. Instansies soos die Tygerberg-Kinderhospitaal het elke sent en bydrae van buitestanders nodig om beter te kan sorg, behandel en dien. Doen wat jy kan, waar jy kan. SMS sommer nóú die woord 'milan' na 38198. So skenk jy R10 aan die Tygerberg-Kinderhospitaal.

Goed, dit dan my prekie vir vandag ...

Op die hardloop-front gaan dit baie goed. Donderdag se 2 uur lange roete in Jonkershoek was asemrowend mooi sowel as ongenadig hard op die bene! Die aangehegte foto is geneem op een van die makliker dele van die roete. Ons is toe uiteindelik tot bo op daai berg. Soms handeviervoet! En met die afkomslag so half sit-sit oor die los klippe. My bobene herstel nou nog. Daar is ook 'n hele paar roetes om van te kies, en ons het maar so met die kaart in die rugsak gehardloop en genavigeer.

Ek en Schalk het al baie gespog dat ons nie te sleg sal vaar in die TV-program Amazing Race nie. Wel, as die TV-kameras daar in Jonkershoek was, sou dit 'n interessante stukkie werklikheidstelevisie gewees het. Ons het twee keer liederlik verdwaal! Schalk het die kaart, maar ek hardloop voor ... Nou vra ek jou, wie se skuld is die verdwaal nou? As jy gedink het 'n mens kan nie hardloop en baklei nie, is jy verkeerd! So verkeerd soos wat Schalk was met sy navigasie.

Ek sê maar net.

Die langnaweek se oefensessies is 'n bietjie gekniehalter deur die Kaapse storms. Die toppunt van skuldig voel, is as jy veronderstel is om 21 km in die Paarl te gaan hardloop, maar jy lê die hele Saterdag in jou pajamas en kyk twee seisoene van die TV-reeks White Collar in die bed! Ek het gedink ma's het die kuns van skuldig voel, vervolmaak, maar atlete is erger! Ek belowe myself toe om Sondag daarvoor op te maak en die 30 km-wedloop in Simonstad te gaan hardloop, maar toe kry ek nie 'n oppasser vir die kinders op sulke kort kennisgewing nie. O mea culpa, mea culpa! Ag, en omdat ek nou in elk geval al klaar op daardie afwaartse spiraal is, eet ek toe sommer gisteraand twee bakke malvapoeding met vla. Mooi.

Milan Murray in Jonkershoek

Nou ja, hierdie week begin ek dan met 'n moedige glimlag en goeie voornemens. Ek het twee maande oor. Net twee maande. Ek voel soos 'n swanger vrou wat regmaak vir die kraamsaal. My tassie is amper gepak (danksy Dr. Van Rensburg van bCds in Potchefstroom wat al my toerusting vir die wedloop betaal het!), my kop is gefokus op die 11 uitmergelende ure, my man staan reg met die GoPro-kamera om die aksie af te neem en die familie staan reg met die nodige oooh's en aaah's as ek die medalje huis toe bring.

Jy kan my vordering dophou op die Facebook-blad 'Milan vs The Otter', of volg my hierdie laaste twee maande op Twitter by @milanmurray. Hierdie poging van my is gebore uit die behoefte om 'n verskil te maak in die lewens van siek kinders. Ek wil so graag aan die einde van hierdie wedloop 'n groot tjek aan die Tygerberg-Kinderhospitaal oorhandig, en jy kan help deur soveel moontlik SMS'e te stuur.

Ouers is nie veronderstel om hul kinders te begrawe nie.

Groete van huis tot huis,

Milan Murray