Boonop het ek vir die eerste keer met 'n rugsak gaan hardloop, want vir die 11 uur lange Otter-wedloop is daar mos nie gereelde verversingspunte soos by ander wedlope nie. Jy gaan met ’n enkelpaadjie teen ’n berg op. Daar's nie ondersteuners met baniere, motiveringsgille en peuselhappies langs die pad nie. So die verpligte lysie benodighede (wat alles van ’n space blanket tot jou kosvoorraad insluit) dra jy soos ’n skilpad op jou rug.

Wat is daai 'iets' wat maak dat jy aanhou en uithou? Waar in ons brein of in ons binneste lê daai vuurtjie wat soms flouer en soms sterker brand? Die 'wil', as't ware? Die dryf wat ons laat aanhou baklei teen kanker, of laat aanhou werk aan die moeilike huwelik? Daai ding wat ons laatnag wakker hou om verder te werk of later te swot.

Of is dit dalk nie die vlam van agter nie, maar die wortel van voor? Die erkenning, die medalje, die oorwinning, die genoegdoening?

Ek weet nie wat dit is wat my elke dag my tekkies laat aantrek om kilometers ver te gaan hardloop nie. Om aan die Otter African Trail Run deel te neem was my eie besluit. My eie uitdaging. Ek kan heerlik gerieflik vandag besluit ek wil dit nie meer doen nie. So eenvoudig soos dit. Los dit net, Milan. Dis swaar. Dis moeilik. Dis soms seer... op meer as een plek! Hoekom dan, behalwe vir die fondsinsameling, myself  so pynig?

Ek kan eerlikwaar nie vir jou sê of dit my ego of my moedswilligheid of my man se dreigemente is wat my daagliks op die pad kry nie. Maar ek herinner myself gereeld:
There will be days when I don't know if I can run an 11 hour race. There will be a lifetime knowing that I have.

Ek kyk gisteraand vir my dogter terwyl sy slaap, en wonder hoe sy hierdie afgelope paar maande sal onthou. Mamma wat elke middag voor sononder die pad vat. Mamma wat soms rondtes deur die dorp en verby die huis hardloop sodat sy ons kan high five elke keer as sy verbykom. Mamma wat uitasem en met moddertekkies by die voordeur inval. Ek onthou dat sy daar was by die eindstreep van my eerste halfmaraton. "Mamma, het jy gewen?" het sy opgewonde gevra. "Nee, my Lam, Mamma het klaargemaak!" juig ek en gee haar 'n stywe druk. Die medalje hang nou nog teen haar kas.

Ek  besef dat ek nie omgee of sy eendag sportief of syferkundig of eksentriek is nie. Ek hoop wel dat sy haarself sal ken en uitdaag. Die ironie is dat ons so baie wakker lê oor wat ons ons kinders moet leer, en intussen leer hulle ons.

Ek het agter in die ry gestaan toe geduld uitgedeel is. Gister moes ek twee uur lank periwinkle-skulpies optel langs die strand. "Die kleintjies, Mamma" het Lua gese en dan die stukkendes teruggegooi. Een skulpie na die ander het ons die Pick n Pay-sak volgemaak. Sy het met groot sorg en die wêreld se tyd haar skatte uitgesoek. En sy het haar nie laat haas nie. Ek het later vergeet van die to-do-lysie in my handsak en die opdraande pad wat nog voorlê voor ek op 15 Oktober die groot wedloop aanpak. Sy leer my om my tyd te vat. Om die proses sy eie gang te laat gaan en stelselmatig jou sak vol te maak.

Ek sal vir die oomblik ophou vaskyk teen my krok-knieë en ophou baklei teen die woeste Weskuswind en kies om te glo dat ook hierdie ding sy eie tyd het. Want wie weet, miskien is die belangrikste item op die Otter-lys van benodigdhede 'n Pick n Pay-sak vol periwinkles.

Groete van huis tot huis,
Milan