Diamante is so oud soos tyd self; en ook vandag se millenniërs trek nie neus op vir diamante nie.

Hulle is inteendeel verantwoordelik vir sowat 45% van aankope op die gewildste diamantmarkte, wat insluit dié in Amerika, China en Indië, volgens ’n Forbes-verslag.

Vir Suid-Afrikaanse paartjies wat verloof raak, is diamante steeds die gewildste keuse, wys die diamantjuweliers Shimansky se navorsing.

Millenniërs eis wel ’n nuwe benadering vir die bemarking en verkoop van diamante. Status is nie vir hulle belangrik nie, wel selfuiting.

Eerder as om diamante met ’n gevestigde handelsnaam te koop, ondersteun hulle een met dieselfde waardes as hulle.

Dikwels is dit ’n sosiaal-verantwoordelike doelwit, wat beteken die hele proses, van myn tot mark, moet deursigtig wees.

LEKKER FEITE:

  • Die eerste opgetekende geval waar ’n paartjie met ’n diamantring verloof geraak het, was toe aartshertog Maximilian van Oostenryk en Mary van Boergondië in 1477 aan mekaar trou beloof het. Die ring was van goud met haar voorletter (M) in diamante.
  • Die antieke Grieke en Romeine het geglo diamante is die gode se trane. En die Romeine dat Kupido se pyltjies in diamante gedoop is; dus ’n vroeë verbintenis met diamante en romanse.
  • Die tradisie om ’n verloofring aan die vierde vinger van die linkerhand te dra het in Egipte ontstaan. Volgens hulle het die “aar van liefde” (ook bekend as “vena amoris”) van die punt van daardie vinger reguit hart toe geloop.
  • In die Middeleeue is geglo diamante het mistieke kragte wat van geestesiektes tot uitermatige moegheid kan heel.
  • Sowat 65% van die wêreld se diamante kom uit Afrika.
  • Die woord “karaat” is waarskynlik afkomstig van die karobboontjie (carato in Italiaans). In antieke tye was dit ’n gewilde gewigseenheid vanweë die eenvormigheid van die boontjie se gewig.
  • Net een uit ’n miljoen diamante weeg ’n karaat of meer. Die gemiddelde diamant verloor sowat 50% van sy oorspronklike karaat wanneer dit geslyp word.
  • 80% van die wêreld se diamante is nie edelsteen-gehalte nie en word vir industriële doeleindes gebruik.
  • Om een karaat ongeslypte diamante te lewer word sowat 200-250 ton erts verwerk.