Leanne van den Berg en Liz Nass het dadelik aandag getrek op M-Net se werklikheidskosprogram My Kitchen Rules Sondae-aande om 18:00. Dié twee donkerkop-Vrystaters, of “Bloem Besties” soos hulle hulself noem, hou van kosmaak én mooimaak. 

“Mense wat ons ken sê ons kook in styl en ons kook met ons oë. Ons maak mooi, selfs al is dit net ’n braaibroodjie,” vertel Liz. 

Dit was Leanne wat die TV-advertensie om vir die program in te skryf, eerste gesien het. “Ek het dadelik geweet ek wil saam met Liz deelneem. Sy maak prentjies in haar kop van alles. Ons is al twee mammas, bly 800 m van mekaar af en is lief vir kosmaak.” Liz het ’n sesjarige seuntjie en ’n dogtertjie van twee. Leanne het twee jong dogters en is 12 weke swanger. “Dis ’n MKR-babatjie,” sê sy.

Die twee is ook sakevennote en besit die plaaslike Sport.Video, ’n Europese konsep waar sportgeleenthede regstreeks digitaal uitgesaai word na enige plek in die wêreld. “’n Ma en pa kan byvoorbeeld hul seuntjie se rugbywedstryd opneem en iemand in ’n ander deel van die wêreld kan kyk hoe hy ’n drie druk,” vertel Liz.

FOTO M-NET

Dis hul passie vir kosmaak wat die twee laat besluit het om deel te neem aan My Kitchen Rules

. Maar die groot plesier lê daarin om ’n slag iets vir hulself te doen, sê Leanne. “Ons is al twee werkende ma’s en in die warboel verloor jy jouself. MKR is iets wat ons vir onsself gedoen het.”

Al het hulle aanvanklik op sosiale media deurgeloop onder kritiek, het hulle gou besef hulle moet dit nie persoonlik opneem nie. “Soos wat die program vorder, gaan jy deur ’n metamorfose en mense verander hul opinie oor jou,” sê Leanne.

Dis nie net hul lekker geregte wat kykers fassineer nie, maar ook hul uitrustings, want Liz en Leanne trek elke week dieselfde aan. “Liz hou van mooi aantrek. Dit was haar idee. Ons wou wys ons doen moeite,” sê Leanne.

Liz beaam dit: “Ons het elke uitrusting beplan. Dit wys ons is ’n span. Dit is intimiderend en ons kook in styl!”