Karl Lagerfeld, ontwerper, fotograaf en kreatiewe direkteur van die modehuise Chanel, Fendi en Karl Lagerfeld, is vandag in die ouderdom van 85 ná 'n onbekende siekte oorlede. 

"Dis ’n groot verlies vir die modewêreld," sê Michélle van Breda, SARIE se redakteur. "Hy het Coco Chanel se nalatenskap lewend gehou. Dit het gevoel asof sy nooit weg was nie. Tog het hy haar styl en visie geïnterpreteer en gemoderniseer."

In 1983, net meer as 'n dekade ná stigter Gabrielle Bonheur (Coco) Chanel se dood, het Lagerfeld, 'n Duitser van geboorte, hom by Chanel aangesluit. 

Volgens Amaria Carstens, SARIE se moderedakteur, het Lagerfeld ikoniese elemente uit die Coco Chanel-era, soos tweeds, die klein swart rokkie, boxy jas en pêrels, in sy eie ontwerpe laat voortleef. "Hy het die DNS van Chanel behou, maar dit altyd sy eie gemaak."

Tot voor sy dood was Lagerfeld nog aktief in die modewêreld en het jaarliks tot agt modevertonings gehou. 

Hier is 5 interessante feite oor Lagerfeld:

1) Hy het in 2014 die regie van 'n Chanel-kortfilm behartig. Die Grammy-wenner Pharrell Williams en Britse model Cara Delevingne het daarin verskyn.

2) In 2001 het hy 42 kg verloor en tot met sy dood nie sy lippe aan koffie, tee, alkohol en suiker gesit nie.

3) Sy kat, Choupette, het meer as 120 000 volgelinge op Instagram. 

4) Hy was 'n gerekende fotograaf.

5) Hy het sy hare reeds sedert 1976 in die kenmerkende poniestert gedra.