"Sy's baie opgewonde en sy's alleen oor saam met Kurt en die manne. Maar sy't my nou gebel uit 'n kuierplek, so ek vermoed dit gaan goed!" het Corné Oosthuizen, MoniQue se agent, vertel.

MoniQue en Kurt is vir 'n week of wat daar op uitnodiging van die Aussiekaners, 'n ondersteuningsgroep vir Suid-Afrikaners wat in Australië bly.

Die span in Sydney

MoniQue en Kurt saam met die span

Dit is 'n groot jaar vir dié sangeres. Nie net is sy vir 3 Ghoema-toekennings benoem nie, maar sy is ook onder die kunstenaars wat in die ry staan vir 'n Fiësta-toekenning vir Beste Fiësta-aanbieder.

"MoniQue doen baie goed op die oomblik! Sy't een van die besigste Februaries in 'n lang tyd gehad. En nou nog 4 benoemings óók!" vertel Corné.

MoniQue is ook deel van die groep 4 Werke (met Elizma Theron, Ray Dylan en Nicholis Louw), en hul benoeming vir Beste Pop- of Kontemporêre Album deur 'n Groep of Duo by vanjaar se Ghoemas tel onder haar drie benoemings. Sy is ook benoem vir Beste Vroulike Kunstenaar en Beste Pop-album deur 'n Vroulike Kunstenaar.

Só lyk hulle toer:
13 Maart - Gladstone
15 Maart - Brisbane
16 Maart - Perth
17 Maart - Melbourne
19 Maart - Adelaide


Haar nuwe styl

"Ons wil 'n bietjie haar look verander," vertel Corné. "Sy't reeds haar hare korter geknip en die punte ligter gemaak. Ons maak haar voorkoms sagter. Die modeontwerpers F Wilson Fashion Design gaan voortaan al haar klere vir optredes en rooitapyt-verskynings maak. Hulle was glo onlangs by die Las Vegas Fashion Week."