Ons het in ons Januarie-uitgawe met die Mooirivier-akteur en vervaardiger Tim Theron gesels.

Was jy régtig insulien-weerstandig?

Ja, ek het in ’n stadium 111 kg geweeg. Gróót. Toe ek my troufoto sien, het ek geskrik. Ek en ’n vriend het mekaar uitgedaag om gewig te verloor. ’n Maand lank het ek getrou wortels en slaaie geëet en geoefen. Toe sit ek 1 kg aan. My vriend het 5 kg verloor. Ek wou huil. Nadat ’n dokter my bloed getoets het, het ek medikasie gedrink om insulien-weerstandigheid teen te werk en byna dadelik gewig begin verloor. Ek moes wel oefen en reg eet. Nou draf ek gereeld, sowat 10 km in die berge by Stellenbosch. En ek speel sosiaal rugby, onder meer vir die Cape Town 10’s [’n sosiale 10-man-rugbytoernooi].

In Mooirivier speel jy een van die romantiese helde. Geniet jy daardie soort rol?

Elke seun wil ’n held wees wanneer hy groot is – ’n super- of sportheld. Later, wanneer hy mooi meisies begin raaksien, word romantiese held by die lysie gevoeg. Dit is lekker om die beeldskone aktrise van haar voete af te swiep. In Mooirivier speel ek teenoor Anel Alexander.

Soms is dit nogal moeilik om die hoed van akteur én vervaardiger te dra – albei is my passie. Tydens die vervaardiging kon ek fokus op toneelspel en die bestuur van Kaapland Films aan my vennote (Cobus van den Berg en Jorrie van der Walt) oorlaat.

In Klein Karoo was dit ’n voorreg om as Frans Coetzee verlief te raak op Donnalee Roberts (Cybil Ferreira). Maar ek geniet ook “donker” rolle. Dit is hoekom my rol in die kortfilm-wenner by 2014 se kykNET Silwerskermfees, Vuil wasgoed, so lekker was. Ek was die bad guy.

Op wie is Mooirivier gemik?

Dis vir almal, want dit gaan oor die liefde. Daar is veelvuldige storielyne soos in die Britse dramatiese komedie Love Actually. Jy gaan met ’n lag of dalk ’n traan by die teater uitstap.

Lees meer oor Mooirivier HIER

Kyk na die lokprent van Mooirivier:

Lees die volledige onderhoud met Tim in die Januarie-uitgawe van SARIE. Laai dit steeds digitaal af en lees dit op jou rekenaar, tablet of slimfoon.

Lees nou