Die jongste musieknuus van ons grootste kunstenaars! Juanita, Elvis Blue en Corlea ... en Riaan Cruywagen?

Juanita du Plessis

Juanita se nuutste musiekvideo vir "Kaalvoetkind" is vrygestel! Sy het die lokprent op haar Facebook-blad gedeel. Klik hier om dit te kyk.

Elvis Blue

Elvis se eerste Afrikaanse album ná Idols word hierdie maand bekendgestel. Hy het voordat hy aan Idols deelgeneem het twee Afrikaanse albums uitgereik.

Hy gaan ook eersdaags in Binneland speel. Hierin gaan hy liedjies van dié album sing. Lees meer oor sy Binneland-rol hier.

Corlea

Corlea is besig met haar nuutste album en beoog om dit November vry te stel. Ons kyk uit hiervoor.

Riaan Cruywagen

Afrikaans se legendariese nuusleser is verantwoordelik vir 'n album! Luister saam met Riaan Cruywagen – sy gunstelingtreffers is 'n samestelling van sy gunsteling-liedjies sedert hy begin uitsaai het 47 jaar gelede.

Riaan vertel: “Kort nadat ek verlede jaar op 26 November vir oulaas op SABC2 as nuusleser goeienag gesê het, het Universal Musiek my uit die bloute gebel en gevra of ek bereid sou wees om my samewerking te verleen vir die produksie van ’n CD. Die idee was om ’n CD, bestaande uit die afgelope 47 jaar se musiek sedert ek begin uitsaai het, saam te stel.”

Die eindproduk is ’n bobaas-versameling van internasionale en plaaslike immergroen treffers. Van Mungo Jerry ("In the Summertime"), Gé Korsten ("Nicolene"), Engelbert Humperdinck ("The Last Waltz"), Pussycat ("Mississippi"), Kenny Rogers ("Lucille") tot Nick Taylor ("Stille rivierstroom") pryk op hierdie uitsoek-versameling.

“As ek drie liedjies moet uitsonder waarvan ek die meeste hou, dink ek dis 'Memories Are Made of This' deur Dean Martin, 'Lady in Red' deur Chris de Burgh en 'Don’t Let The Stars Get In Your Eyes' deur Perry Como,” verklap Riaan. “Die rede? Dis drie van my gunsteling-sangers, elk met ’n enorme repertorium wat myns insiens altyd tydloos sal bly."

Hou SARIE.com dop vir meer nuus oor jou gunsteling-kunstenaars.